AfriForum verwyder meer as 27 ton vullis in Bloem ná dienslewering in duie stort
AfriForum se vullisverwyderingspan in Bloemfontein het gedurende April ’n buitengewone bydrae tot dié stad geleAfriForum se vullisverwyderingspan in Bloemfontein het gedurende April ’n buitengewone bydrae tot dié stad gelewer deur meer as 27 ton vullis te verwyder. Hierdie diens, wat geheel en al deur die burgerlike samelewing gedryf word, bied ’n volhoubare en betroubare alternatief te midde van die voortgesette verval in munisipale dienslewering.
Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, het dit intussen ook onder die organisasie se aandag gekom dat daar ’n groot agterstand in vullisverwydering regoor die metro ontstaan het. Dit volg nadat verskeie munisipale vullistrokke verlede week buite werking gestel is.
“Hierdie voorval is ’n verdere bewys van hoe kwesbaar Bloemfontein se inwoners is wanneer hulle uitsluitlik op die munisipaliteit moet staatmaak vir basiese dienste,” sê Groenewald. “Wanneer dié diens in duie stort of gehinder word, bly vullis ophoop, wat ernstige gesondheids- en omgewingsrisiko’s tot gevolg het.”
AfriForum se vullisverwyderingsdiens is gestruktureer om samewerking met gemeenskapslede, skole, meenthuiskomplekse en plaaslike ondernemings. Hierdie vennootskappe maak dit moontlik om konsekwente, skoon en veilige woonbuurte te handhaaf, ongeag die munisipale agterstand.
“Ons bied nie net ’n oplossing nie – ons bou aan ’n kultuur van selfstandigheid. En dit is ons lede en hul bydraes wat dit moontlik maak,” voeg Groenewald by.
AfriForum spreek sy waardering uit teenoor sy getroue lede wat hierdie diens dra en moedig inwoners aan om aan te sluit en só self by te dra tot ’n skoner Bloemfontein. Belangstellendes kan registreer by www.vullisverwydering.co.za.