AfriForum verwyder 12 ton rommel en tuinvullis in Delportshoop
Die ingang en hoofstraat van Delportshoop is nou weer ’n mooi prentjie nadat AfriForum daar ingegryp het. Die AfriForum-tak in Delportshoop het verlede week altesaam 12 ton, oftewel 6 vragte van 2 ton elk, rommel en tuinvullis in die dorp verwyder.
Die span het Delportshoop se strate ingevaar en rommel opgetel, begroeide gras gesny en indringer Prosopis-bome – ’n uitheemse spesie wat beduidende ekologiese uitdagings veroorsaak – verwyder.
“Hierdie aksie is belangrike stap in die herstel van die natuurlike balans en die beskerming van ons plaaslike ekosisteem. AfriForum se Delportshoop-tak is trots daarop om gemeenskapsgedrewe omgewingspogings te dryf en bly daartoe verbind om saam met plaaslike owerhede en inwoners te werk om ’n skoner en gesonder omgewing vir almal te verseker,” sê Lize Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.
Sluit aan by AfriForum se Delportshoop-tak om vir die dorp se behoud te veg: Besoek www.wordlid.co.za.
