AfriForum loof krag van openbare en internasionale druk ná regering voorstel dat rassekriteria vir Starlink verslap word

Klankgreep: Ernst van Zyl (Afrikaans)
Klankgreep: Ernst van Zyl (Engels)

Die burgerregteorganisasie AfriForum verwelkom die Suid-Afrikaanse regering se voorstel wat vandag in die Staatskoerant gepubliseer is vir die verslapping van rassekriteria vir satellietdiensmaatskappye soos Starlink soos vervat in die breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (B-BBEE)-lisensievereistes.

AfriForum is ’n belangrike rolspeler in die stryd om die streng hindernisse wat Elon Musk se Starlink ten opsigte van ras uit Suid-Afrika hou, uit die weg te ruim. AfriForum het in 2024 skriftelike kommentaar by die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika (Okosa) ingedien en gevra vir die verwydering van rasgebaseerde kriteria wat Starlink se toetrede tot Suid-Afrika blokkeer. AfriForum het ook in Februarie 2025 deelgeneem aan Okosa se openbare verhore oor ’n voorgestelde nuwe lisensieraamwerk vir satellietdienste. AfriForum het in sy aanbieding gefokus op die voordele wat toegang tot Starlink moontlik vir boere en landelike gemeenskappe kan inhou en het ook uiteengesit waarom die weerhouding van hierdie moontlike voordele op rassegronde onregverdigbaar is. Daarbenewens het AfriForum ’n petisie van stapel gestuur waardeur die publiek hul teenkanting teen die regering, wat Starlink op rassegronde uit Suid-Afrika hou, kon laat hoor.

Volgens Ernst van Zyl, hoof van Openbare Betrekkinge by AfriForum, begin die momentum teen die Suid-Afrikaanse regering se rassistiese wette nou duidelik plaaslik en in die buiteland draai.

“Elon Musk se veroordeling van die Suid-Afrikaanse regering vir sy rasbehepte wette was ’n kritieke faktor in hierdie stryd om die gaping in die toegang tot internet tussen die landelike en stedelike dele van Suid-Afrika te oorkom. Hopelik lui dié verwikkeling die begin van die einde vir rassewette in Suid-Afrika in,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings