AfriForum verwelkom uitspraak oor lisensiekaart-tender, deursigtige proses moet nou volg
AfriForum verwelkom die uitspraak gister in die Pretoriase Hooggeregshof dat die aanwysing van Idemia as voorkeurbieër om bestuurderslisensiekaarte vir Suid-Afrika te druk, onregmatig en ongeldig was. Die burgerregteorganisasie doen nou ’n beroep op die Departement van Vervoer om ’n deursigtige proses te volg om ’n nuwe tender toe te ken en wys daarop dat dit nou die ideale geleentheid is om die geldigheidstydperk van bestuurderslisensies na agt jaar te verleng.
Na afloop van ’n tenderproses vir die verskaffing van nuwe lisensiekaartdrukkers, het die departement se bod-evalueringskomitee verlede jaar ’n buitelandse maatskappy, Idemia, as voorkeurbieër aangewys. Die toekenning van dié tender is egter op ys geplaas nadat die Ouditeur-Generaal ongerymdhede rakende die evalueringsproses én rakende ander Idemia-kontrakte uitgewys het. Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het gevolglik die hof genader om ’n verklarende bevel te gee. Gister se uitspraak het hierop bevestig dat die aanwysing van Idemia inderdaad onregmatig was.
Louis Boshoff, veldtogbeampte by AfriForum, wys daarop dat die Departement van Vervoer nie totaal vry van aanspreeklikheid vir hierdie onregmatige proses is nie. “Dis die Departement van Vervoer wat daardie bod-evalueringskomitee aangewys het. Daar moet nou ernstige vrae gevra word oor waarom die departement ’n partydige komitee sou aanwys en hoe om te verseker dat dit in die toekoms nie weer gebeur nie,” verduidelik Boshoff.
Boshoff voeg by dat dit nou die ideale geleentheid is om die verlenging van die geldigheidstydperk van bestuurderlisensies te finaliseer. Navorsing wat in opdrag van die Departement van Vervoer gedoen is, het aanbeveel dat die geldigheidstydperk van vyf na agt jaar verleng word. Die departement het al herhaaldelik bevestig dat dié besluit goedgekeur is en dit is selfs al in amptelike beplanningsdokumente van die departement aangeteken. Tog bly die uitvoering van dié besluit nog agterweë.
AfriForum vra nou waarom dit so lank neem om te implementeer. “Dit behoort ’n eenvoudige stap te wees. Daar hoef niks aan die kaarte of die hernuwingsprosesse te verander nie – die vervaldatum moet net met drie jaar aangeskuif word,” sluit Boshoff af.



