AfriForum verwelkom terugtrek van Noord-Kaapse SAPD se “slegs Engels” -taalinstruksie
AfriForum verwelkom ’n skrywe, wat vanoggend aan lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Noord-Kaap gestuur is, as ’n belangrike oorwinning vir taalregte op die vooraand van Menseregtedag. In die skrywe van 20 Maart, word SAPD-lede in dié provinsie ingelig dat hulle die instruksie van die Noord-Kaapse adjunk- provinsiale kommissaris, generaal-majoor L. Ngubelanga, dat alle amptelike SAPD-dokumente in die provinsie slegs in Engels mag wees, moet ignoreer.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit verblydend dat daar so vinnig op die instruksie gereageer is. “Nadat instellings, insluitend AfriForum, Solidariteit en Kaapse Forum, hiervan bewus geword het, was moontlike regsaksie ondersoek en ’n klag by die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) daarteen gelê. AfriForum is ook deur lede gekontak wat voorbeelde genoem het van hoe dit misdaadslagoffers se regte skend wanneer polisielede, wat geen opleiding as vertalers of tolke het nie en nie eerste taal Engelssprekendes is nie, onder meer verklarings in Engels moet afneem.”
“Dit is besonders kommerwekkend dat senior SAPD-lede nie van hierdie uitdagings kennis neem nie, soos wat hierdie instruksie van 12 Maart bewys,” sê sy.
’n Soortgelyke opdrag van 2016 in die Noord-Kaap is in 2017 teruggetrek nadat Solidariteit regsaksie daarteen geneem het.
“Dit is noodsaaklik dat die publiek nie opdragte en voorskrifte van hierdie aard moet ignoreer nie, maar dit so gou as moontlik onder instellings soos AfriForum se aandag moet bring. Die vinnige terugtrekking van hierdie instruksie bewys dat optrede daarteen wel sukses kan behaal. Taalregte kan net werklikheid word as die sprekers van die tale wat daardeur geraak word, jaloers daaroor waak,” beklemtoon Bailey.