AfriForum verwelkom bevindings en aanbevelings oor Mpumalanga Onderwys se duur rekenaaraankope
Klankgreep: Alana Bailey (Afrikaans)
Klankgreep: Alana Bailey (Engels)
AfriForum het die premier van Mpumalanga, Mandla Ndlovu, se aankondiging vandag oor die bevindings van die ondersoek na die aankope van 22 skootrekenaars in Desember 2024 teen abnormale hoë pryse, asook beplande optrede teen diegene wat vir die aankope verantwoordelik was, verwelkom.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het AfriForum reeds op 18 Februarie 2025 ’n formele versoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Onderwysdepartement van Mpumalanga gerig om meer inligting oor die aankope te bekom. Die departement se traagheid om op die versoek te reageer, het AfriForum genoodsaak om met ’n appèlproses te begin, maar met die aankondiging van die verslag vandag, is dit voorlopig op ys geplaas.
Bailey noem dat ’n anonieme bron inligting aan AfriForum voorsien het wat aangedui het dat die rekenaars teen ’n koste ver bo die markprys van soortgelyke rekenaars aangekoop is. Die premier het tydens vandag se mediakonferensie bevestig dat dit inderdaad die geval was en dat die verskaffer boonop nie by die spesifikasies gehou het nie. Hy het ook aangedui dat amptenare die feite probeer verdoesel het, wat verdere vermoedens van AfriForum bevestig.
AfriForum beskou die verdere stappe wat die premier aangekondig het, as positief. Dit sluit in die verhaling van die koste wat aangegaan is om die rekenaars aan te koop, swartlysting van die verskaffer op nasionale en provinsiale verskafferslyste, dissiplinêre stappe teen die meer as agt geïmpliseerde amptenare, lewensstyloudits van alle betrokkenes, asook moontlike kriminele aanklagte teen die verantwoordelikes by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Verder word verwelkom dat die premier ’n ondersoek gelas het na die verkrygingsprosesse, bestuursoorsigprosesse, interne kontroles en verantwoordbaarheid teenoor provinsiale strukture van die departement in sy geheel.
Dit is teleurstellend dat voete gesleep is in reaksie op ’n burgerlike organisasie soos AfriForum se navrae, en vordering eers gesien is toe politieke partye by die proses betrokke geraak het, maar AfriForum hoop dat die verdere stappe ander probleme en risiko’s sal oopvlek sodat prosesse in die toekoms eerliker en openliker bestuur sal word. AfriForum sal moniteer watter stappe teen die geïmpliseerdes gedoen word. Daar moet verseker word dat hulle nie net weer elders ontplooi word, soos wat al in die verlede die geval met geïmpliseerdes in korrupsiesake was nie.
Bailey beklemtoon dat wanaanwending van fondse deur onderwysowerhede ’n wrang smaak in die mond laat as ’n mens in ag neem dat dit ten koste van die opvoeding en toekoms van die jeug van ons land geskied.