AfriForum vervang 23 stoptekens ná munisipaliteit versuim om Volksrust-paaie te beveilig
AfriForum se Volksrust-tak het oor die afgelope twee maande oor die dorp heen 23 stoptekens opgerig of vervang wat voorheen vermis of beskadig was. Dié padtekens sal voorts help om die strate van Volksrust veiliger te maak.
Voor die aanvang van die projek het die tak na die Pixley Ka Seme Plaaslike Munisipaliteit uitgereik om sy samewerking met hierdie lewensbelangrike projek te kry. Ná verskeie pogings en geen terugvoer nie, het die tak onderneem om self die dorp te beveilig.
Die eerste fase van die projek is om Laerskool Pionier en Hoërskool Volksrust voltooi. Daar was oor die afgelope tyd gereeld klagtes dat motoriste oor kruisings naby skole ry sonder om te stop. Baie van die gevaarlike kruisings word deur leerders gebruik.
“Die lewens van motoriste en leerders word daagliks in gevaar gestel deur iets so eenvoudig soos ’n stopteken wat nie meer daar is nie. Alhoewel die munisipaliteit nie die erns van die saak raaksien nie, het AfriForum geweet hy moet intree om die gemeenskap te help beveilig,” sê Johan Kennard, voorsitter van AfriForum se Volksrust-tak.
Die tak het reeds die tweede fase van die projek verlede week voltooi en ’n verdere 13 stoptekens vervang. Dié stoptekens is op onder meer Hospitaal-, Volk- en Krugerstraat opgerig.
“AfriForum beywer om maandeliks padtekens op te rig om te verhoed dat die verval weer so ’n kritiese punt bereik. Die tak doen daarom ’n beroep op inwoners om die afwesigheid van padtekens aan te meld en by AfriForum betrokke te raak om die herstelwerk moontlik te maak,” sluit Kennard af.
Inwoners kan hier vermiste padtekens aanmeld. Besoek ook www.wordlid.co.za of stuur ’n e-pos aan hennie.bekker@afriforum.co.za om betrokke te raak.







