|

AfriForum versterk Oos-Rand met 41 vrywilligers om veldbrande te bestry

AfriForum het onlangs 41 lede van die Alberton-, Edenvale-, Germiston-, Benoni- en Brakpan-takke in basiese veldbrandbestrydingstegnieke opgelei. Die opleiding is deur AfriForum se rampbestuurafdeling aangebied as deel van die burgerregteorganisasie se poging om gemeenskappe aan die Oos-Rand beter vir die veldbrandseisoen toe te rus. Die betrokke lede is dikwels diegene wat die voortou neem wanneer dit kom by brandbestryding in hul omgewing.

Die opleidingsessie het die lede toegerus met die nodige kennis en vaardighede om veldbrande doeltreffend en veilig te beheer. Die volgende aspekte is tydens die teoretiese en praktiese sessies behandel:

  • Eie veiligheid en situasiebewustheid.
  • Oorsig oor relevante wetgewing.
  • Samewerking met rolspelers soos Brandbeskermingsverenigings (BBV).
  • Beginsels van bevel en beheer.
  • Versamelpunte en operasionele koördinering.
  • Effektiewe kommunikasie tydens noodgevalle.

“Klimaatsverandering, droogtes en onwettige brandstigting dra alles by tot die toename in veldbrande, maar met elke AfriForum-lid wat opgelei word, bou ons aan ’n selfstandige gemeenskap wat daartoe in staat is om dié natuurverskynsels in bedwang te bring. Doelgerigte reaksie tydens die eerste 10 minute van ’n veldbrand is ook krities, daarom is dit juis hierdie burgerlike vermoë wat AfriForum met sy opleiding versterk,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum.

“Veldbrande is een van die mees rampspoedige en vernietigende soort brande wat gemeenskappe jaarliks tref. Dit is dus noodsaaklik dat gemeenskappe paraat en proaktief optree om hul eiendom, lewens en omgewings te beskerm. Met die regte kennis en toerusting weet hierdie taklede nou wat om te doen wanneer elke sekonde tel,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Volgens Cooks is hierdie jaar se veldbrandseisoen besonders uitdagend. “Daar is vanjaar buitengewone hoeveelhede brandstof (plantegroei) as gevolg van goeie reënval, wat veldbrande vinniger en meer intens laat versprei. Dis uiters belangrik dat ons vrywillige brandbestryders weet hoe om veilig op te tree wanneer veldbrande geblus word.”

AfriForum se veldbrandopleiding is deel van ’n breër nasionale veldtog om veilige, selfstandige en goed georganiseerde gemeenskappe te skep. Nóg opleidingsessies word reeds vir verskeie streke oor die land heen beplan.

Sluit by jou naaste AfriForum-tak aan of besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings