AfriForum vat Mangaung-metro hof toe oor vullisverwydering, kwytskeldingsaansoeke
AfriForum se Bloemfontein-tak het hofstukke beteken op die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit weens die metro se volgehoue versuim om behoorlike vullisverwydering aan inwoners te lewer, asook sy weiering om aansoeke vir kwytskelding van dié diens te oorweeg.
Die regstappe volg nadat talle inwoners, met AfriForum se ondersteuning, aansoek gedoen het om hul munisipale vullisverwyderingsdiens te kanselleer en eerder van privaat diensverskaffers gebruik te maak. Die metro het egter versuim om op hierdie aansoeke te reageer of om administratiewe geregtigheid te laat geskied, wat AfriForum genoodsaak het om die saak na die hof te neem ingevolge die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (Wet 3 van 2000).
AfriForum het die hof versoek om in die belang van inwoners op te tree met betrekking tot hul reg om self te besluit oor die dienste waarvoor hulle betaal – veral in gevalle waar die munisipaliteit nie daardie dienste lewer nie. In die hofstukke word aangevoer dat Mangaung se wanbestuur en volgehoue diensleweringskrisis inwoners dwing om alternatiewe te soek, aangesien daar weke verloop sonder dat vullisverwydering plaasvind.
Volgens Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein, gaan die saak oor meer as net vullisverwydering. “Die burgerregteorganisasie voer hierdie stryd namens inwoners aan wie se basiese regte geskend word. Niemand behoort te betaal vir ’n diens wat eenvoudig nie bestaan nie. Hierdie hofaksie is ’n stap om die beginsel van verantwoordbaarheid te herstel en die reg van keuse vir belastingbetalers te beskerm,” sê Groenewald.
Tot dusver het meer as 650 inwoners reeds aansoeke ingedien om hul vullisverwydering van die metro te kanselleer en by AfriForum se alternatiewe diens aan te sluit. Hierdie name en ondersteuningsdokumentasie is as bewyse by die hofstukke ingesluit.
Terwyl die hofproses voortduur, gaan AfriForum voort om volhoubare vullisverwydering aan die inwoners van Bloemfontein te verskaf. Die organisasie beklemtoon dat dit nie slegs ’n diensleweringsinisiatief is nie, maar deel van ’n groter poging om selfstandige en verantwoordbare gemeenskappe te bou.
AfriForum moedig alle inwoners aan om hul regte te benut en by die organisasie se vullisverwyderingsinisiatief aan te sluit, waar hulle ook hul aansoeke om kwytskelding by www.vullisverwydering.co.za kan indien.



