AfriForum-takke in Kaapse provinsies volg praktiese benadering tot gemeenskapsbou
Die AfriForum-takke in die Noord-, Oos- en Wes-Kaap het sedert die aanvang van 2026 verskeie selfdoenaksies van stapel gestuur om die agteruitgang van woonbuute in die Kaapse provinsies effektief teë te werk. Vyf takke in die besonder het in Januarie en Februarie onder meer slaggate herstel, openbare infrastruktuur met ’n leksel verf opgeknap en ’n noodwaterpunt opgerig wat geaktiveer word wanneer watertekorte tref.
Die AfriForum-tak in Knysna het veral ’n praktiese benadering tot gemeenskapsbou. Oor die afgelope twee maande het dié tak altesaam 150 kg teer gebruik om slaggate aan die kusdorp op te vul; 270 liter verf ingespan om spoedhobbels en stopstrate sigbaar te maak; en vyf ton seesand, wat dele van Sedgefield se strate versper het, verwyder.
“AfriForum se buurtspan in Knysna is skaars ses maande aan die gang, maar die span maak reeds ’n wesenlike verskil in die gebied. Dit is ’n voorreg om die dienste te kan lewer wat die inwoners verdien,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
Dele van Delportshoop in die Noord-Kaap is ook met slaggate deurtrek, daarom het dié AfriForum-tak in Februarie 250 kg teer en drie ton sand gebruik om dit te herstel. Om die impak van moontlike watertekorte te mitigeer, het AfriForum se Overstrand-tak ’n noodwaterpunt by Laerskool Gansbaai opgerig. Dié noodwaterpunt sal deur die gemeenskap gebruik kan word as krane leegloop.
Terwyl verskeie AfriForum-takke aan die kus spook om infrastruktuur op te knap, was daar ook takke wat hul gemeenskappe help verfraai het. Die Jeffreysbaai-tak het altesaam 200 geelhoutbome aan Dorp van Drome geskenk, ’n organisasie sonder winsbejag wat help om dié deel van die kus se natuurlike skoonheid te herstel en te bewaar. Die Cederberg-tak het ook ’n rotstuin gebou om die dorp te verfraai.
“Sterk gemeenskappe word gevorm deur mense wat nie wag vir ander of die staat nie, maar self verantwoordelikheid neem. Saam kan ons verandering bring, oplossings vind en ’n beter toekoms bou,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se hoof vir die suidstreek.
Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by AfriForum betrokke te raak.



