|

AfriForum-tak voeg nog klagtes by klagstaat oor water en riool in Kai !Garib

AfriForum het klagtes oor water en riool in die Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit bygevoeg by hul klag wat vroeër vanjaar by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie ingedien is. Watertoetse, wat ’n paar maande gelede gedoen is, het daarop gedui dat die water nie geskik is vir menslike gebruik nie. Nou, te midde van ’n hittegolf en voor die feesseisoen behoorlik kon begin, sit inwoners van Kenhardt, Keimoes en Kakamas bykans sonder water. 

Kenhardt se rioolstelsel is ook nou al vir ’n geruime tyd buitewerking, daar is vir bykans vier jaar al nie ’n werkende pomp wat rou riool na die rioolwerke kan pomp nie. Die gevolg is dat riool uit mangate, onder die hoofweg deur in die veld inloop. Volgens inwoners is die reuk só erg dat hulle byna nie kan asemhaal nie.

Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, is dit kommerwekkend dat hierdie dorpe nie toegang het tot veilige, skoon drinkwater nie. “Dit is ’n basiese mensereg om toegang tot skoon drinkwater te hê, daardie reg word hier erg geskend. Dit bevestig net weer dat Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit nie hul verpligting teenoor die gemeenskap nakom nie.”

Inwoners van die Kai !Garib-munisipaliteit het ook vroeër vanjaar deelgeneem aan ’n optog oor die toestand van dienslewering in dié munisipaliteit. Tydens hierdie aksie is daar ook ’n memorandum aan die munisipale bestuurder, Obakeng Isaacs, oorhandig.

“Ons sal die huidige waterkwessie moniteer en aanhou om druk te plaas totdat daar ’n oplossing gegee word wat werklik verligting aan die gemeenskap gaan bring,” sluit Strauss af.

Soortgelyke plasings