Graaff-Reinet – die giftige gevolge van naamsverandering
Deur Alana Bailey, hoof van Kultuursake by AfriForum
Wanneer jou selfoon vroeg op ’n Maandag begin lawaai, moet jy weet een of ander drama begin ontvou. Dit was die geval op 12 Oktober vanjaar toe verskeie mense AfriForum gekontak het om te verneem of ’n berig dat Graaff-Reinet se naamsverandering omgekeer is, waar is. Die oorsprong van die gerug was ’n Facebook-plasing. Dit blyk toe wel dat die berig vals nuus was. Die heftige reaksie wat dit ontlok het, bewys egter hoe sterk mense teen hierdie dorp se naamsverandering gekant is.
Die verandering het begin met ’n voorstel van ’n individu dat die dorp se naam wat ’n koloniale oorsprong het, na Robert Sobukwe, anti-apartheidsaktivis en stigterspresident van die Pan Africanist Congress (PAC), vernoem moet word. Sobukwe is op 5 Desember 1924 op dié dorp gebore. Hierdie versoek is deur die instelling wat dit volgens wet moet hanteer, die Oos-Kaapse Geografiese Nameraad, op provinsiale vlak hanteer en daarna vir goedkeuring na die nasionale raad verwys. Laasgenoemde het dit na oorweging na die minister vir finale goedkeuring gestuur.
’n Opname om die mening van die dorp se inwoners oor ’n naamsverandering te peil, is in Desember 2023 deur die Universiteit Stellenbosch se prof. Ronnie Donaldson onderneem. Dit het bevind dat 83,6% van die inwoners die verandering teengestaan het, insluitend 92,9% van die bruin en 98,5% van die wit respondente. Net sowat ’n derde van die swart inwoners van die dorp het die verandering ondersteun. Vele inwoners het gevoel dat die verandering hul identiteit as “Graaff-Reinetters” sou uitwis.
Ná die nasionale verkiesing van 2024 is Gayton McKenzie as minister van Sport, Kuns en Kultuur aangestel. Hy het die publiek verseker dat die dorp se naam nie verander sal word nie. In Julie 2024 het hy verklaar dat hy “geen obsessie met naamsveranderinge” het nie en eerder tyd en fondse aan “groter kwessies” sal wy. Die Graaff-Reinetters het asem geskep.

Die aankondiging in die Staatskoerant van 23 Januarie 2026 dat 21 plekname in die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal gaan verander, insluitend Graaff-Reinet, het dus as ’n skok gekom. Die minister het nou wal gegooi en gesê dat hy besware gehad het oor die aanvanklike proses wat gebrekkig was, maar dat dit sedert 2024 reggestel is en dat hy dus nou die verandering kon goedkeur.
Volgens die wet het die publiek die geleentheid gehad om beswaar teen die aangekondigde verandering te maak. Maar as 38 000 besware is deur organisasies, politieke partye en individue ingedien, maar die minister het nóg daarop, nóg op die prokureursbriewe met versoeke om heroorweging en gesprekvoering van onder meer AfriForum gereageer.
Hierdie gebeure het aanleiding gegee tot die indiening van ’n hersieningsaansoek by die Hooggeregshof in Pretoria deur AfriForum in ’n poging om die naamsverandering om te keer en die gebreke in die bepalings van die wet wat die besluit moontlik gemaak het, onder die lope te neem. Die minister se reaksie hierop was dat “hy nie vir wit mense skrik nie”, asof AfriForum nie die dorp se hele gemeenskap verteenwoordig nie. Die wiele van die wet draai langsaam en die saak sal eers in 2027 aangehoor word.
Die dorp se ekonomiese ontwikkelingsforum (GEDF) het intussen geëis dat die minister op die beswaarskrifte moet reageer. Weer was sy reaksie ’n afjak, naamlik dat hy nie die soort mens is wat na spertye luister nie. Gevolglik het die forum pas aangekondig dat hulle ’n dringende aansoek by die Hooggeregshof in Makhanda ingedien het om die minister te dwing om die beswaarskrifte te oorweeg. Die saak sal waarskynlik op 24 November 2026 aangehoor word.
Die GEDF se regsaksie beklemtoon die publiek se frustrasie met openbare raadplegingprosesse wat telkens bloot onderneem word om die wetlike vereistes na te kom, sonder dat ag op die publiek se menings geslaan word. Dink aan die deurdruk van byvoorbeeld die sogenaamde Bela-wet, waar die sessies teen reusekoste onderneem is, maar die openbare menings wat daartydens uitgespreek is, eweveel in die wind geslaan is.
Op X skryf ’n kommentator tereg dat die transaksiekoste van naamsveranderings nie die besluitnemers soos die minister raak nie, maar plaaslik deur huishoudings en klein besighede geabsorbeer moet word – diegene wat reeds die swaarste deur ekonomiese druk getref word. Vir die nasionale regering bied naamsveranderings die simboliese gewin dat dit transformasie sogenaamd aanhelp, maar vir ’n stad of dorp en sy inwoners administratiewe gevolge wat oor jare strek en skaars hulpbronne opslurp – iets wat die GEDF en AfriForum ook met hul regsaksie probeer voorkom.
Naamsveranderinge kom al ’n lang pad in die land. Die Oos-Kaapse Geografiese Nameraad het selfs ’n teller wat dramaties tol op hul webtuiste om aan te dui hoeveel plekname tans vir verandering oorweeg word. Christian Martin, voorsitter van dié raad, verklaar: “Dit is pynlik om in die provinsie te ry en steeds koloniale name teë te kom asof ons in ’n ander land is. Die komitee moet geografiese naamsverandering met meer ywer en gretigheid hanteer om ons provinsie te transformeer om die kultuur en mense van die Oos-Kaap te verteenwoordig.”
Duidelik word mense wat van koloniale herkoms is of wat die ou name as deel van hul geskiedenis erken, nie deur Martin as Oos-Kapenaars beskou nie.
McKenzie sélf voer aan dat die huidige Oos-Kaapse naamsveranderinge, soos dié van Graaff-Reinet, deel is van die transformasie van die land se erfenislandskap en dien om ’n nasionale identiteit en nasieskap te ontwikkel. Die groot teenstand van inwoners daarteen, die verdeeldheid wat die prosesse saai en die reusekoste wat dit veroorsaak in een van die behoeftigste provinsies in die land, word eenvoudig geïgnoreer.
Naamsveranderinge is wêreldwyd ’n kontroversiële tema. Die Organisasie vir Onverteenwoordigde Nasies en Volke (UNPO) beskryf die doelbewuste vervanging van plekname deur owerhede as ’n politieke strategie wat daarop gemik is om die verbintenis tussen gemeenskappe en hul grond te verswak. Hierdie verskynsel staan as toponimiese uitwissing bekend.
Deur naamsveranderings probeer regerings volgens UNPO om gemeenskappe en streke se narratief te herskryf waardeur hulle volle gebieds- en ideologiese staatsbeheer wil toepas. Dit is die begin van ’n proses wat die gemeenskappe se taal en kultuur as geheel, asook hul historiese teenwoordigheid in en bydrae tot ’n gebied probeer uitvee. UNPO doen verder ’n beroep op regerings en internasionale organisasies om toponimiese uitwissing as ’n soort kulturele onderdrukking te erken.

As mense wat sterk voel oor die naam van Graaff-Reinet hakke teen die naamsverandering inskop, is dit dus van veel groter belang as net historiese sentiment. Dit is ook allermins ’n uitspraak teen Robert Sobukwe – niemand ontken sy unieke rol in die geskiedenis of dat hy vernoem mag word nie. Waaroor dit gaan, is die reg van ’n gemeenskap se stemme om gehoor te word en teenstand teen die uitbuiting van kultuur en erfenis vir politieke gewin en onderdrukking.
- Hierdie rubriek het oorspronklik op Maroela Media verskyn.



