|

AfriForum-tak in Sasolburg neem rol van waghond in

AfriForum het die rol van waghond oor die inwoners van Sasolburg se belange ingeneem nadat die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit vir te lank toegelaat het dat dienslewering verswak en munisipale verordeninge verontagsaam word. Die burgerregteorganisasie het verlede week met die munisipale bestuurder en sommige direkteure van die Metsimaholo-munisipaliteit vergader om sy misnoeë oor die stand van sake op die dorp te kenne te gee.

Een van die hoofpunte waarop die AfriForum-tak die munisipaliteit op gewys het, was die voorkoms van onwettige besetters en oorbewoonde erwe wat toenemend in Sasolburg kop uitsteek. Dit sit nie net verdere druk op die dorp se rioolnetwerk nie, maar het ook veroorsaak dat die kragnetwerk bykans aan die randjie van ineenstorting is. Onwettige verbindings het reeds verskeie huisbrande tot gevolg gehad en die oorbewoonde erwe en onwettige besetters veroorsaak erge geraasbesoedeling in woonbuurte.

AfriForum het daarop aangedring dat die munisipaliteit dadelik sy verordeninge toepas en teen dié oortreders optree. Die munisipaliteit moet teen einde Julie verslag doen oor die vordering in hierdie verband. AfriForum sal deurlopend as waghond optree om die vordering te monitor.

Die AfriForum-tak het intussen die munisipaliteit se aandag gevestig op onwettige vullis- en rioolstortings. Die munisipaliteit moet toesien dat verstoppings oopgemaak word en dat die pompe behoorlik werk. Hiermee saam is slaggate ’n groot probleem wat veroorsaak dat sommige gebiede byna onbegaanbaar is. Dit het ’n ernstige uitwerking op die plaaslike ekonomie. Mangate wat nie deksels het nie hou boonop ook ’n wesenlike gevaar vir gemeenskappe in. Daar moet onverwyld aandag daaraan gegee word voordat dit ernstige beserings tot gevolg het.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, was daar verskeie ondernemings tydens die vergadering gemaak, maar AfriForum wil eers resultate sien. “Die burgerregteorganisasie het reeds ’n datum vir die volgende vergadering aangevra om te verseker dat vordering in die onderskeie gebiede gemaak word. Beloftes is een ding, maar die Sasolburg-tak wil sien dat daar daadwerklike verbetering in die dorp kom,” sê sy.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om ’n daadwerklike verskil te maak. Kontak Johan Hayward by 073 885 1365 of Braam Muller by 076 125 7773 om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings