AfriForum-tak en -buurtwag verbeter Delportshoop een dag op ’n slag
Die AfriForum-tak en -buurtwag in Delportshoop het die afgelope maand dié gemeenskap gedien deur hul veiligheid en welstand die hoogste prioriteit te maak. Terwyl die buurtwag snags oor die gemeenskap gewaak het, het die tak bedags broodnodige opruimingswerk aan die plaaslike begraafplaas gedoen en selfs slaggate in die gebied opgevul.
Die buurtwag het gedurende Januarie nagenoeg 17 uur lank patrollies gery, waartydens lede op verskeie voorvalle gereageer het. Die buurtwag het ondersoek ingestel na klagtes van rusverstoring, asook op individue toegeslaan wat erwe onregmatig betree het om waterkanne vol te maak.
Hiermee saam het die AfriForum-tak vir dae lank die dorp se begraafplaas skoongemaak. Op 20 Januarie, te midde van uitermatige hitte in die Noord-Kaap, het vyf toegewyde individue onkruid by die begraafplaas uitgehaal en bome gesnoei.


“Die tak beskou dit as ’n groot voorreg om die begraafplaas in stand te hou. Dit is danksy die toewyding van talle gemeenskapslede wat dit moontlik is om hierdie betekenisvolle projek aan te pak,” sê Nols Dreyer, voorsitter van AfriForum se Delportshoop-tak.
AfriForum het ook ’n reuseskenking van tien sakke teer ontvang, wat gebruik is om 36 slaggate op die hoofpad te herstel. Vrywilligers vanuit die gemeenskap het gehelp om dié slaggate te vul en dra gereeld by tot die tak se pogings om infrastruktuur op die dorp te verbeter.

“AfriForum se Delportshoop-tak bly daartoe verbind om mense se lewensgehalte op die dorp te verbeter en moedig inwoners aan om by gemeenskapsprojekte betrokke te raak sodat hierdie droom ’n werklikheid word,” sê Dreyer.
Besoek www.wordlid.co.za om AfriForum Delportshoop-tak te ondersteun en positiewe verandering in die gemeenskap teweeg te bring.