AfriForum stuit boeliegedrag by agt skole in Hessekwa
AfriForum se Teenboelieveldtogspan en die Hessekwa-tak het vandeesmaand gehelp om boeliegedrag by agt hoër- en laerskole in die Hessekwa Plaaslike Munisipaliteit in sy spore te stuit. Die burgerregteorganisasie het sowat 4 050 leerders toegespreek oor die gevare van afknouery en leerders in staat gestel om boeliegedrag vroeg in die kiem te smoor.
AfriForum het tussen 3 en 7 Februarie besoek afgelê by Laerskool Volschenk, Hoërskool Heidelberg, De Waalville Primary School, Melkhoutfontein Primêre Skool, Molenrivier Primary School, Panorama Primary School en Hoërskool Albertinia.
“Hierdie teenboelieveldtog in die Hessekwa-streek was nie net belangrik nie – dit was absoluut noodsaaklik. Die Hessekwa-tak ontvang gereeld versoeke van ouers af wat AfriForum se hulp benodig vir kinders wat in skole geboelie word. Leerders in die grondslagfase het veral baie geleer oor wedersydse respek,” sê Vivian Louwrens, voorsitter van AfriForum se Hessekwa-tak.
Matteus, die Teenboelieveldtogspan se gelukbringer, is vernoem na Matteus 7:12 wat lui: “Behandel ander soos jy self behandel wil word”. AfriForum se teenboeliegids herinner kinders aan hierdie beginsel van respek en bevorder ’n omgewing waar boeliegedrag nie geduld word nie.
Graeme Cutting, skoolhoof van Melkhoutfontein Primêre Skool, sê ná afloop van AfriForum se praatjie by die skool het leerders nou die kennis om teen boeliegedrag op te tree. “Dissipline by skole sal verbeter as boeliegedrag al vroeg in die kiem gesmoor word. Die waardes van ’n skool en die omliggende gemeenskap sal boonop ook beter uitgeleef word as daar minder boelies is.”
“Dit is vir AfriForum belangrik om leerders toe te rus met die volle wapenrusting van God, omdat hulle dit kan gebruik om boeliegedrag hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms,” sê Tania Scheepers, AfriForum se noordstreekkoördineerder vir Onderwys en aanbieder van die teenboelieveldtog-praatjies.
Besoek gerus www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog.


