AfriForum soek antwoorde oor Eskom-ooreenkoms vir straatligte in Noord-Kaap
AfriForum het ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (PAIA), by Eskom ingedien ná herhaalde, onsuksesvolle pogings om uit te klaar wie vir die herstel en instandhouding van straatligte in die Kathu- Olifantshoek- en Deben-omgewing verantwoordelik is. AfriForum is genoop om dié aansoek te bring aangesien die werkende straatligte in hierdie dorpe minder is as die wat nie werk nie.
Straatligte wat nie instandgehou of herstel word nie hou ook veiligheidsrisiko’s vir die gemeenskap in aangesien dit wegkruipplek aan booswigte voorsien en veral ’n risiko vir motoriste inhou aangesien die pad nie helder verlig is nie.
Volgens Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo, het sy en die voorsitter van AfriForum se Kathu-tak, Johan Snyman, op twee afsonderlike geleenthede met Manuele Estevao, die hoof van tegniese dienste by die Gamagara Plaaslike Munisipaliteit geskakel oor die straatligte. Estevao het hulle na Eskom se senior toesighouer vir die Noord-Kaap, Victor Andreas, verwys en gesê dat Eskom verantwoordelik is vir die herstel en instandhouding van straatligte. Andreas het op sy beurt vir Smit en Snyman in kennis gestel dat dit nie die geval is nie en dat die munisipaliteit volgens hom verantwoordelik is vir dié taak ingevolge ’n ooreenkoms wat daar tussen Eskom en dié munisipaliteit gesluit is. Die ooreenkoms is nog nie aan AfriForum verskaf nie.
AfriForum het gepoog om ’n vergadering tussen Estevao en Andreas te fasiliteer ten einde vas te stel wie verantwoordelik is en of daar wel ’n ooreenkoms bestaan, maar ten spyte van verskeie versoeke het dié vergadering nie realiseer nie.
“Ons het nou besluit om Eskom te dwing om vir ons die inligting te gee wat ons verlang aangesien ons nie reguit antwoorde uit Eskom of die Gamagara Plaaslike Munisipaliteit kry nie. Dit raak ’n vingerwysery terwyl die gemeenskap daaronder ly en geen duidelike antwoorde voorsien word nie,” sê Smit.
In sy PAIA-aansoek versoek AfriForum onder meer ’n kopie van die beweerde ooreenkoms tussen Eskom en die Gamagara-munisipaliteit; alle verwante korrespondensie wat die munisipaliteit se verpligtinge bevestig; en die datum waarop die ooreenkoms bereik is.
“Hierdie is vir ons ’n kwessie oor Eskom en die munisipaliteit se verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap. Daar is uiteindelik ’n veiligheidsrisiko wat met gebrekkige straatligte gepaardgaan veral in landelike dorpe. Ons buurtwagte rapporteer gereeld dat daar diere soos donkies, bokke en skape oor die pad loop en dat motoriste versigtig moet ry. Motoriste kan nie alleen verantwoordelik wees vir hul eie veiligheid op die paaie nie, iewers moet Eskom of die munisipaliteit hul verantwoordelikheid begin nakom,” sluit Smit af.
AfriForum sal graag ’n vergadering met verteenwoordigers van die munisipaliteit en Eskom wil hou om die dokumente te bespreek sodra dit aan die organisasie voorsien word.