|

AfriForum slaggereed om Rand Water in hof te pak

AfriForum het op 12 Desember in samewerking met die boere in die Bethal-omgewing twee miljoen liter water aan die gemeenskap versprei. Hierdie reuse-mylpaal is behaal ondanks die wurggreep van ’n erge droogte wat die omgewing teister.

Bethal se krane is al van September af droog met gebiede wat meer as 120 dae lank nie water het nie. Tehuise, skole en kerke met noodwaterpunte word onder hewige druk geplaas met inwoners wat eindeloos op soek is na water.

Intussen doen AfriForum Dinsdag 17 Desember in die Hooggeregshof in Pretoria aansoek om ’n interdik wat Rand Water verplig om die watertoevoer ten volle te herstel. Rand Water het in verskeie skrywes aan AfriForum aangevoer dat die waterdruk nie verminder is nie. LUR Speedy Mashilo het egter onlangs op ’n vergadering van die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake aan DA-lede bekendgemaak dat die waterdruk inderdaad met 50% verminder is weens die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit se onvermoë om sy Rand Water-rekening te betaal.

“Die Govan Mbeki-munisipaliteit verkies egter steeds eerder om nuwe voertuie en selfs jaareindfunksies by weelderige troulokale te hou in plaas daarvan om die inwoners te help. Watertenks is selde in Bethal te sien en as dit gesien word, is dit besig om nog water uit die netwerk te tap en na Emzinoni te versprei,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

“Bethal se inwoners verdien water nes die res van die munisipale gebied. As dit nie vir die boere was nie sou ons in groter moeilikheid gewees het.”

Soortgelyke plasings