AfriForum skerp veiligheidsnetwerk in Rayton op voor Kerstyd
Die AfriForum-tak in Rayton en Cullinan het gister sy kameranetwerk in die gebied uitgebrei deur nóg ’n LPR-kamera op te rig. Hierdie kameras herken nommerplate met behulp van kruisverwysings na plaaslike en internasionale databasisse. Dit help wetstoepassers en buurtwagte om kwaaddoeners nóg vinniger in hul spore te stuit.
Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid, sê hierdie kamera gaan by die bestaande LPR-veiligheidsnetwerk inskakel om die gemeenskap te help beveilig. Die kamera is boonop op ’n brandpunt in die omgewing opgerig om sodoende die netwerk nóg verder uit te bou.
“Met die Kerstyd wat op hande is gaan misdaad waarskynlik weer vererger soos wat besoekers die gebied binnekom en inwoners die gebied verlaat. Die byvoeging van hierdie kamera sal egter ’n groot impak maak en toesien dat kwaaddoeners vinnig geïdentifiseer word. Dié kameranetwerk gaan boonop veiligheidsrolspelers in staat stel om inligting in te win en seker te maak dat kriminele elemente se beweging in die gemeenskap gemonitor en indien nodig, beperk word,” sê Ungerer.
AfriForum se Rayton- en Cullinan-tak sou nie hierdie projek sonder die gemeenskap se ondersteuning kon aanpak nie. Raak vandag nóg by hierdie tak betrokke deur ’n epos aan voorsitter.rayton-cullinan@afriforumtak.co.za te stuur of besoek www.wordlid.co.za.