AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Roodekrans
AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 17 April by die Laerskool Roodekrans in Roodepoort besoek afgelê en meer as 1 000 leerders oor boeliegedrag toegespreek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.
“Die belangrikste is dat die leerders besef wat ’n boelie is. Baie kinders ken nie die verskil tussen ’n geïsoleerde voorval en boeliegedrag nie. Die leerders het ook geleer dat elke persoon ’n spesiale en unieke skepping van God is daarom moet ons mekaar met respek behandel. AfriForum se aanslag met God se wapenrusting het ’n groot impak en pas perfek by ons skool se Christelike waardes in,” sê Deon Rousseau, skoolhoof by Laerskool Roodekrans.
Volgens ’n 2023 akademiese joernaalartikel, “The profile of bullying perpetrators and victims and associated factors among high school learners in the Tshwane District, South Africa” in die International Journal of Environmental Research and Public Health, toon navorsing dat hoë vlakke van slagoffers wat onder boeliery gebuk gaan, veral onder hoërskoolleerders val. Die vorme wat boeliery aanneem verskil van streke. In Suid-Afrika het die gerapporteerde voorkoms van slagoffers van boelie gewissel tussen 16,5% en 75% en dié van die oortreder het gewissel tussen 3,9% en 8,2%.
“Na afloop van die praatjie weet elke leerder hoe om boeliegedrag te identifiseer en hoe om dit stop te sit. Dit is van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met die vaardighede toe te rus om gevare in die toekoms te voorkom,” sê Tania Scheepers, AfriForum se noordstreekkoördineerder vir Onderwys en aanbieder van die teenboelieveldtog-praatjies.
Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog, besoek www.teenboelie.co.za.