|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Boerefort in Pretoria

AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 19 Februarie by die Laerskool Boerefort in Pretoria besoek afgelê en ongeveer 610 leerders met hul praatjie bereik. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

Die leerders het geleer dat boeliegedrag in enige vorm voorkom. Hoewel boelies dikwels met fisiese aggressie geassosieer word, maak sommige boelies ook van manipulasie en sosiale isolasie gebruik. Selfs kinders wat vriendelik voor volwassenes optree, kan ander afknou wanneer niemand kyk nie.

Luidens Sandrinette Pretorius, graad 7-voogopvoeder aan die Laerskool Boerefort, is dit belangrik dat kinders oor boeliegedrag en die gevare daarvan leer.

“Leerders moet die erns van afknouery verstaan: Hulle woorde en dade kan iemand wat reeds swaarkry oor die afgrond stoot en sodoende iemand se lewe kos. Boelies moet nie net gehelp word nie, maar gerehabiliteer word. Boonop is dit nie net belangrik dat slagoffers leer hoe om boeliegedrag te hanteer nie, maar boelies moet leer om hulle optrede teenoor ander te verander,” sê Pretorius.

“Dit is vir AfriForum belangrik dat leerders die teenboeliepraatjie bywoon wat begrond is in die volle wapenrusting van God, omdat hulle dit kan gebruik om boeliegedrag hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Na afloop van die praatjie weet elke leerder hoe om boeliegedrag te identifiseer en hoe om dit stop te sit. Dit is van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met die vaardighede toe te rus om gevare in die toekoms te voorkom,” sê Tania Scheepers, AfriForum se noordstreekkoördineerder vir Onderwys en aanbieder van die teenboelieveldtog-praatjies.

Laai AfriForum se gratis teenboeliegids hier af. Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog, besoek www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings