AfriForum moedig Laerskool Kragbron-leerders aan om boeliegedrag met moed te trotseer
Boeliegedrag verloor sy mag wanneer kinders die moed het om op te staan. Dit was AfriForum se Teenboeliespan se kernboodskap met dié span se besoek aan Laerskool Kragbron in eMalahleni (voorheen Witbank), Mpumalanga, op 28 Julie. Tydens dié besoek het leerders praktiese vaardighede aangeleer om hulle te help om boeliegedrag te herken, slagoffers te ondersteun en deel van die oplossing in die stryd teen boeliegedrag te wees.
Leerders is aangemoedig om nie net hulself teen boeliegedrag te beskerm nie, maar ook om as verantwoordelike toeskouers op te tree deur slagoffers te ondersteun en boeliegedrag by ’n betroubare volwassene aan te meld. Daar is ook beklemtoon dat boeliegedrag fisiek, verbaal, sosiaal én aanlyn kan voorkom.
Volgens die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef) loop kinders wat herhaaldelik geboelie word, ’n groter risiko om angs, depressie, swak akademiese prestasie, skoolvermyding en langdurige emosionele uitdagings te ervaar. Dit beklemtoon waarom vroeë ingryping by en bewusmaking oor boeliegedrag noodsaaklik is.
Mari-Louise Erasmus, aanbieder van AfriForum se teenboelieprogram, benadruk dat boeliegedrag oor meer gaan as net die boelie en die slagoffer. “Daar is byna altyd toeskouers wat ’n keuse het om op te tree. Boelies put krag uit ander se stilte. Daarom wil ons leerders bemagtig om die stem te wees wat opstaan vir respek, vriendelikheid en omgee. Wanneer kinders kies om nie stil te bly nie, word die ketting van viktimisasie verbreek.”
AfriForum moedig skole, ouers en leerders aan om saam te werk om boeliegedrag vroeg te identifiseer en te takel. “Deur kinders met die regte waardes en vaardighede toe te rus, kan ons skole bou waar elke leerder veilig voel om te leer, te groei en hul volle potensiaal te bereik,” sluit Erasmus af.
Laai AfriForum se gratis Boelie- en kuberboeliegedrag by skole: ’n Praktiese gids vir ouers af hier af.
Vir meer inligting oor AfriForum se Teenboelieveldtog, besoek www.teenboelie.co.za.



