AfriForum se Randfontein-tak pak padveiligheid aan
Die AfriForum-tak in Ranfontein het op 29 Maart in samewerking met die Randfontein-gemeenskapspolisiëringsforum, die Randfontein-veediefstalinligtingsentrum, Mapogo A Mathamaga-sekuriteit en EPR-sekuriteit, die vierrigtingstopstraat by Main- (R559) en Steynweg in Kocksoord opgeknap deur die padtekens oor te verf en nuwe stoptekenpale op te rig.
Die doel van die opknapping is om die gemeenskap se veiligheid op die paaie te verbeter ná twee tragiese sterftes op dié gedeelte van die pad sedert verlede jaar. Met hierdie projek word padveiligheidsbewustheid geskep, terwyl dit ook gemeenskapsontwikkeling en -ondersteuning bevorder.
“Kom ons werk saam om ’n veiliger, sterker gemeenskap te bou! Die opknapping van die vierrigtingstopstraat in Kocksoord is net die begin. AfriForum se Randfontein-tak is daartoe verbind om padveiligheidsbewustheid te verhoog, gemeenskapsontwikkeling te bevorder en ons inwoners te ondersteun,” sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand.
Sluit by AfriForum se Randfontein-tak aan om die omgewing ’n beter plek vir almal te maak: Stuur ’n e-pos aan randfontein@afriforum.co.za.
