|

AfriForum se Pionier-tak vul 14 slaggate in Meyerspark as deel van #HerstelEnVersnel

As deel van AfriForum se jaarlikse Herstel en Versnel-projek het die Pionier-tak in Pretoria ingespring om die toestand van paaie in die Meyerspark-woonbuurt te verbeter. Gedurende dié projek het vrywilligers altesaam 14 slaggate in agt verskillende strate opgevul, wat ’n beduidende verskil aan padveiligheid en infrastruktuur in die area gemaak het.

Die betrokke strate en aantal slaggate wat herstel is sluit in:

  • een slaggat in Asimptotestraat;
  • twee slaggate in Roorda Smitstraat;
  • drie slaggate in Erasmusstraat;
  • twee slaggate in Odendaalstraat;
  • drie slaggate in Roosstraat;
  • een slaggat in Margarithastraat;
  • een slaggat in Trevorstraat; en
  • een slaggat in Gordon Verster-straat.

Dié inisiatief vorm deel van AfriForum se strewe om plaaslike diensleweringstekorte aan te pak en bewusmaking te skep oor die waarde van gemeenskapsinisiatiewe.

“Selfdoenaksies soos hierdie dien as konkrete bewyse dat gemeenskapstrukture hulself tot ’n skoner, veiliger en volhoubare toekoms moet beywer en self betrokke moet raak om probleme aan te pak. Die gemeenskap word aangemoedig om by die AfriForum se Pionier-tak in te skakel sodat nóg meer gedoen kan word,” sê Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

AfriForum se Herstel en Versnel-projek fokus jaarliks daarop om gemeenskappe toe te rus en aan te moedig om self verbeterings aan hul omgewings aan te bring, juis daar waar die owerhede tekortskiet. Hierdie aksie in Meyerspark is slegs een voorbeeld van hoe AfriForum-takke landwyd hande vat met gemeenskappe om volhoubare verandering teweeg te bring.

Die Pionier-tak nooi alle inwoners uit om betrokke te raak by toekomstige projekte en deel te word van ’n gemeenskap wat selfstandigheid en verantwoordelikheid ernstig opneem. Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak, besoek www.wordlid.co.za of kontak die plaaslike tak direk by pionier@afriforumtak.co.za.

Soortgelyke plasings