|

AfriForum se jeug rol moue op vir nóg ’n ronde met Parys se slaggate

Die AfriForum-tak in Parys het verlede week (9 Julie) met behulp van jeuglede wat deel is van die burgerregteorganisasie se mentorskapsprogram, ongeveer 15 slaggate in Eerstelaan en Kortstraat reggemaak. Dié ywerige jeuglede, gerat met 30 sakke teer (0,75 ton), het toegesien dat daar nóg minder slaggate in Parys is.

Die takbestuur het die jongmense, wat van oor die hele land heen kom om hul leierskapvaardighede by AfriForum te ontwikkel, na knelpunte in Parys geneem. Dit was vir sommige van dié lede ’n groot skok dat riool vrylik in die rivier kan vloei, waterlekke soms vir jare lank nie herstel word nie en dat die paaie in sulke haglike toestand kan wees. In ’n poging om die verval teen te werk het drie van die jeuglede, wat almal universiteitstudente is, hul moue opgerol en die AfriForum-tak gehelp om die padinfrastruktuur op te knap.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier, was dit nodig om jongmense aan die werklikheid van munisipale verval bloot te stel. “AfriForum het met hierdie inisiatief by die jongmense dit probeer tuisbring dat ’n mens nie die verval bloot net moet aanvaar nie, maar dat ’n mens daarteen moet bly veg,” sê Pretorius.

“Dit was noodsaaklik om die jongmense te wys watse probleme Parys mee te kampe het, sodat hulle sekere vaardighede aanleer om weer in hul eie gemeenskappe toe te pas,” sê Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak.

Soortgelyke plasings