AfriForum sê hokaai met NGV-regulasies
Die burgerregteorganisasie AfriForum sê dat die voorgestelde bestuursregulasies vir die Nasionale Gesondheidsversekeringsfonds (NGV) nie ingestel behoort te word voordat hofgedinge teen NGV afgehandel is nie. AfriForum meen ook dat daar verskeie tegniese gebreke in die voorgestelde regulasies is wat die implementering daarvan sal bemoeilik.
AfriForum het vandag uitgebreide kommentaar op hierdie regulasies ingedien en beskou dit as belangrik dat daar tydens elke stap van die grondwetlike proses teenkanting gebied moet word teen die vernietigende NGV-stelsel. Die afkeur van hierdie konsepregulasies kan ’n belangrike tree wees om die implementering van die NGV-wet te staak. Die konsepregulasies vir die bestuur van die NGV-fonds is op 6 Maart vanjaar uitgereik en daar word drie maande geleentheid vir openbare kommentaar gebied.
Sommige van die spesifieke tekortkominge en mistastings in die konsepregulasies sluit in:
- Die NGV-wet vereis dat regulasies in oorleg met die NGV-raad uitgevaardig word, maar geen tussentydse raad kan aangewys word nie. Dit vereis ’n wysiging aan die NGV-wet.
- Geen beraamde begroting is nog gepubliseer en geen befondsingsmeganisme is al aangewys om implementering te ondersteun nie.
- Sommige van die regulasies bevat minder detail as die NGV-wet self.
- Verskeie regulasies en subregulasies is bloot verwarrend en onduidelik verwoord.
Volgens Louis Boshoff, veldtogbeampte vir gesondheid by AfriForum, is dit duidelik dat daar tans sterk politieke druk is om staatsbesteding te besnoei en dat daar geen ruimte is om belasting te verhoog nie, dus behoort dit voor die hand liggend te wees dat die implementering van NGV nie nou kan voortgaan nie. “Miskien is dit ’n goeie idee as die minister van Gesondheid nou die proses staak om homself die verleentheid van ’n totaal mislukte NGV-stelsel te spaar.”
AfriForum beklemtoon laastens dat regulering eerder moet ruimte skep vir die privaat sektor om meer bekostigbare mediese dienste aan ’n groter hoeveelheid burgers te kan verskaf.