|

AfriForum se GOP-insette plaas gebrekkige dienslewering onder vergrootglas

Die AfriForum-takke in Bloemhof en Christiana het sy voorstelle op die Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) ingedien. Hierin het die takke voorgestel dat die munisipaliteit dringend aandag aan dienslewering in hierdie dorpe gee.

Die afgelope jaar het die munisipaliteit minimale geld bestee aan die instandhouding van infrastruktuur op dié dorpe, maar die werklike probleem lê by basiese dienste wat die munisipaliteit nie aan sy inwoners lewer nie. In AfriForum se insette op die munisipaliteit se GOP spreek die plaaslike takke hul kommer uit oor die verval van die munisipaitieit. 

“Verskeie munisipale dienste word nie betyds gelewer nie. Vullisverwydering is veral ’n groot probleem. In sommige gevalle neem dit ’n week voordat die munisipaliteit die vullis verwyder en dan word gemeenskappe gedwing om van alternatiewe vullisverwyderingsdienste – teen ekstra kostes – gebruik te maak. Watervoorsiening is ook wisselvallig. Bloemhof en Christiana moet soms vir langer as twee dae aaneen sonder water klaarkom,” sê JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

AfriForum het die munisipaliteit opnuut versoek om dringend aandag aan hierdie diensleweringskwessies te gee, aangesien die gemeenskap steeds maandeliks hiervoor moet betaal.

Buiten dié probleme, is die toestand van die paaie in beide dorpe uiters sleg en selfs ’n groot gevaar.  Sommige paaie is deurtrek met slaggate, wat dit nie net moeilik maak om te gebruik nie, maar ook uiters gevaarlik maak. Dringende ingryping by die riool- en wateraanlegte moet verder ook ’n prioriteit vir die munisipaliteit wees. Gebarste waterpype en mangate wat oorvloei is van die grootste uitdagings met die swak onderhoude infrastruktuur.

“AfriForum stel voor dat die munisipaliteit die nodige fondse beskikbaar maak om hierdie probleme die hoof te bied of selfs met AfriForum se Christiana- en Bloemhof-tak hande te vat om saam hierdie uitdagings te pak,” meen Nel.

Die tak het ook ’n beroep op die munisipaliteit gedoen om só te begroot dat die instandhouding van openbare parke, brandweerdienste en vullisterreine op die dorpe geprioritiseer word. Die vullisterreine het erg agteruitgegaan in die laaste paar jaar en voldoen slegs aan enkele wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur. Dit is daarom broodnodig dat die vullisterreine op standaard gekry word.

Die Lekwa-Teeane-munisipaliteit moet óók vir die volgende tekortkominge in Bloemhof en Christiana begroot:

  • instandhouding van begraafplase;
  • ingryping by onwettige storting;
  • instandhouding van die plaaslike kragnetwerk; en
  • herstelwerk aan straatligte.

AfriForum eis ook dat die munisipaliteit kwartaallikse vergaderings met die burgerregteorganisasie hou om die kwessies se vordering te bespreek. Met die indiening van die GOP oor die laaste drie jaar, het die munisipaliteit egter nie ’n enkele vergadering met AfriForum nagekom nie.

“Die GOP is die ideale geleentheid vir die gemeenskap en AfriForum-takke om hul kommentaar en voorstelle oor die munisipaliteit se beplande begroting uiteen te sit. Dorpe soos Christiana en Bloemhof se agteruitgang is ’n groot bekommernis. Indien die munisipaliteit nie drasties inspring en sy pligte nakom nie, sal hierdie dorpe aanhou agteruitgaan, wat ernstige ekonomiese uitdagings vir die gemeenskappe gaan veroorsaak. AfriForum sal aanhou druk op die munisipaliteit plaas om te verseker dat hy aandag aan die probleme gee en sy grondwetlike pligte nakom,” sê Nel.

Jy kan help om jóú omgewing te beveilig en te verbeter deur vandag nog by AfriForum betrokke te raak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings