|

AfriForum sê eerlikheid en praktiese planne is nodig om kinders se leesvermoë te verbeter

In reaksie op die bekendmaking van navorsing oor Suid-Afrikaanse kinders se skokkende gebrek aan leesvaardighede, het AfriForum gereageer deur te sê spanwerk tussen ouers en onderwysers, eerlikheid oor gebreke in die land se onderwysstelsel en praktiese oplossings is nodig om te verseker dat die jeug se geletterdheidsvlakke verbeter.

Volgens ’n verslag wat uit data van die Suid-Afrikaanse Sistemiese Evaluasieproses en die Konsortium vir die Monitering van Onderwysgehalte in Suider- en Oos-Afrika saamgestel is, kan sowat 80% van die land se graad 3 leerders nie met begrip lees nie. Teen graad 6 het die syfer slegs met 10% na sowat 70% gedaal.

“Dit is duidelik dat die meeste van die land se onderwysowerhede nie by magte is om oplossings vir die leeskrisis aan te bied nie,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake. “Die ouderdom waarop kinders begin lees word nou hiervoor geblameer, maar die ouderdom is al dekades lank dieselfde, terwyl kinders se leesvaardighede al hoe meer versleg. ’n Verpligte graad R, soos deur die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (beter bekend as Bela) ingestel, is nie die goue sleutel om die deur na geletterdheid oop te sluit nie.

Volgens Bailey begin leesvaardigheid tuis, met ouers wat vir kleuters voorlees. Op skoolvlak moet onderwysers die proses voortsit om kinders wat met aandag kan luister te omskep in kinders wat self met aandag kan lees.

“Ouers moet hulle plig nakom en kan ondersteun word deur meer biblioteke te skep en invoerbelasting op boeke af te skaf. Boeke het so duur geraak dat min huishoudings dit kan bekostig, al wil ouers ook voorlees. Dit moet makliker vir hulle gemaak word,” meen sy.

“Wanneer kinders begin skoolgaan, is die noodsaaklikhede wat tans ontbreek kleiner klasse sodat kinders individuele aandag kan kry tot hulle leesvermoë voldoende ontwikkel is, asook moedertaalonderrig wat deur behoorlik opgeleide onderwysers aangebied word. Die Departement van Basiese Onderwys se oneerlikheid oor hoe flink wanfunksionele skole verbeter, help hoegenaamd nie, want 80% kinders wat nie met begrip kan lees nie, dui op agteruitgang, nie vooruitgang nie. Sonder eerlikheid oor die omvang van die probleem, kan dit nie aangepak word nie.”

Bailey voeg by dat faktore soos wanvoeding en onveilige skole ook bydra tot leerders se gebrek aan prestasie. “Gemeenskappe moet saam met die departement aan oplossings werk, want hoe langer die probleem voortduur, hoe minder is die kans dat die land ooit betekenisvolle ekonomiese groei gaan toon. As onderwysowerhede betrokke ouers vervreem, soos wat met die inperking van beheerliggame se besluitnemingsmagte geskied, word hierdie verhoudings tot almal se nadeel geskaad.”

Soortgelyke plasings