|

AfriForum sal strafregtelike stappe doen indien Kai !Garib steeds nie dienste lewer

Ten spyte van talle skrywes, mediaberigte en ander klagtes het Isaac Obakeng, munisipale bestuurder van Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit steeds nie ophou voete sleep nie. Inwoners van Kakamas, Kenhardt en Keimoes, wat in dié munisipaliteit is, gaan gebuk onder swak dienslewering en dit blyk dat dit nie gedurende die feestyd sal beter raak nie.

Riool wat vrylik in die strate loop en gemeenskappe wat vir weke sonder water in hul krane sit is maar net van die probleme wat opgelos moet word. Kenhardt is al vir vier weke sonder water en inwoners weet nie wanneer hulle weer water gaan hê nie. Hierdie is ’n patroon vir die Kai !Garib-munisipaliteit. Wanneer die gemeenskap probleme ervaar swyg die munisipaliteit vir weke lank voor daar iets gedoen word of organisasies soos AfriForum uiteindelik moet ingryp om verligting te bring.

AfriForum het nou ’n laaste versoek aan Obakeng gerig om op te tree en dienslewering te verbeter, anders sal die organisasie met ’n strafregtelike proses begin.

Die organisasie eis onder meer dat die munisipaliteit:

  • Deurlopende en betroubare vullisverwyderingsdienste lewer;
  • infrastruktuur in stand hou;
  • konsekwent water en elektrisiteit verskaf en
  • die gemeenskap betrek om deursigtigheid te bevorder.

Volgens Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, is al drie hierdie dorpe se pompstasies wat veronderstel is om die riool na die rioolwerke aan te dryf buite werking. Hoewel die munisipaliteit die skuld hiervoor op vandalisme wil pak is die waarheid egter dat geen instandhouding vir jare plaasgevind het nie. Riool loop vrylik uit mangate uit en wanneer dit dan en wan herstel en opgesuig word, word dit langs woongebiede in die veld gestort. Die Oranjerivier word ook deur hierdie riool besoedel.

“Riool is een van die grootste probleme wat ons in hierdie munisipaliteit ervaar, maar daar is talle ander dienslewerings- en instandhoudingskwessies wat inwoners ook warm onder die kraag het. Straatligte wat buite werking is en paaie wat in ’n gehawende toestand is, is veiligheidsrisiko’s vir die gemeenskap en dit kan eenvoudig nie langer so aangaan nie. Ons gee die munisipaliteit nou drie dae om te reageer op ons versoek, indien ons nie reaksie kry nie sal ons die nodige strafregtelike prosedures volg,” sluit Strauss af.

Soortgelyke plasings