|

AfriForum oorhandig dringende diensleweringsprioriteite aan Knysna-munisipaliteit

AfriForum se Knysna-tak het gister ’n memorandum met tien van die belangrikste diensleweringsprioriteite in die Knysna Plaaslike Munisipaliteit aan die munisipale bestuurder oorhandig. AfriForum is bewus van verskeie ernstige munisipale diensleweringstekorte in Knysna en poog om met hierdie memorandum die kollig te plaas op van die belangrikste kwessies wat dadelik aandag moet geniet.

“Die kwessies, wat wissel tussen gebrekkige vullisverwydering, onwettige kragverbindings en riool wat deur die strate vloei, bedreig die voorspoedige voortbestaan van Knysna as ’n gemeenskap. Indien die Knysna-munisipaliteit enigsins oor die welstand van sy inwoners omgee en die voortbestaan van die juweel van die Tuinroete wil verseker, behoort hierdie kwessies sonder omhaal hanteer te word,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

AfriForum het die tien kwessies in volgorde van belangrikheid en dringendheid gegroepeer en daarop aangedring dat die munisipaliteit ernstig aandag gee aan:

  1. Waterinfrastruktuur: ’n omvattende oudit van die dorp se waterinfrastruktuur doen en die herstel van waterlekkasies prioritiseer
  2. Rioolstelsel: knelpunte herstel om die vloei van riool in die omgewing te stop
  3. Kragnetwerk: ’n volledige oudit van die netwerk uitvoer en onwettige kragverbindings verwyder
  4. Ramprisikobepaling: bepaal watter insidente moontlik kan plaasvind as gevolg van swak onderhoude infrastruktuur en gebeurlikheidsplanne vir hierdie moontlikhede ontwikkel
  5. Vullisverwydering: die huidige stelsel se doeltreffendheid verbeter sodat vullis betyds verwyder word en die funksionering van oorlaaistasie verfyn sodat vullis nie ophoop nie
  6. Vullisterrein: dadelik met die rehabilitasie van die huidige terrein begin vir die volhoubare gebruik daarvan
  7. Munisipale skut en weivelde: ’n munisipale skut vir diere begin en gemeenskaplike weivelde in gebruik neem
  8. Onwettige besetters en rondswerwers: rondswerwers verjaag en betyds teen besetters optree
  9. Wetstoepassing: die kapasiteit van wetstoepassing verhoog en die afdwinging van bestaande verordeninge verbeter
  10. Paaie en voertuie: ’n volledige oudit van alle paaie en munisipale voertuie doen en ’n prioriteitslys vir herstelwerk saamstel

“AfriForum het weereens benadruk dat hy bereid is om die munisipaliteit by elk van die kwessies by te staan. AfriForum glo dat volhoubare oplossings slegs moontlik is as die gemeenskap aktief by die proses betrek word,” sluit Erasmus af.

AfriForum se Knysna-tak het reeds verskeie suksesvolle gemeenskapsprojekte bedryf en sal voortgaan om te veg vir die voortbestaan van dié pragtige kusdorp. Sluit vandag nog by die Knysna-tak aan . Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel 081 216 9602 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings