AfriForum nader munisipaliteit ná onwettige ontwikkelings in Sasolburg voortduur
Die AfriForum-tak in Sasolburg het die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit genader om verdere stappe teen diegene te doen wat verantwoordelik is vir die onwettige konstruksie van wooneenhede naby die Sasolburg-winkelsentrum. Dit volg nadat die wettigheid van dié ontwikkelings onlangs in twyfel getrek is. Twee van die hoëdigtheid-behuisingsontwikkelings, in onderskeidelik Pretorius- en Menellstraat, is onregmatig onderneem en hoewel die munisipaliteit die eienaars reeds gemaan het om konstruksie te staak, blyk dit dat die bouwerk op dié erwe steeds voortduur.
Die munisipaliteit het in ’n skrywe aan AfriForum bevestig dat die betrokke erwe geen goedgekeurde grondgebruiksregte of bouplanne het wat die ontwikkelaars magtig om met konstruksie te begin nie. Die munisipaliteit het reeds die onderskeie eienaars daarvan in kennis gestel dat hulle in stryd is met die wet, hulle opdrag gegee om die onwettige konstruksie te staak en onderneem om regstappe teen die eienaars te doen wat nie wetgewing of munisipale verordeninge nakom nie.
Ondanks hierdie optrede, wat in ’n vorige brief aan die munisipaliteit deur AfriForum aangevra is, duur die konstruksie steeds voort. AfriForum doen dus opnuut ’n beroep op die munisipaliteit om hierdie saak met die nodige dringendheid te hanteer, die skuldiges boetes op te lê en verdere regstappe teen die skuldiges te doen ten einde die integriteit van die gemeenskap te beskerm.
“Dit is in die openbare belang dat dié soort ontwikkelings volgens die voorskrifte van die betrokke regulasies en verordeninge onderneem word. Indien dit nie gebeur nie, kan hoëdigtheid-behuising ’n negatiewe impak vir die res van die omliggende gemeenskap inhou. Dit kan onder meer lei tot oorbevolking in ’n spesifieke gebied en erge druk op die bestaande water-, riool- en kraginfrastruktuur plaas,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
AfriForum het die munisipaliteit daarop gewys dat die hantering van hierdie saak ’n presedent kan skep vir toekomstige oortredings. Die munisipaliteit moet daarom nie die risiko loop om die publiek se vertroue in die wetlike en regulatoriese raamwerkvereistes waaraan hy moet voldoen, te ondermyn nie.
AfriForum sal voortgaan om alles in sy vermoë te doen om te verseker dat hierdie saak met die nodige dringendheid hanteer word.