| | |

AfriForum maak groot verskil by skole in 2026

AfriForum se takke oor die land heen het in 2026 van veiligheidsoudits tot slaggatprojekte by skole aangepak om te verseker dat dié kern van ’n gemeenskap ’n veiliger plek vir leerders, onderwysers en ouers word.

“AfriForum fokus in 2026 as gemeenskapsbouers op skole wat as spilpunte ’n belangrike rol speel om gemeenskappe te versterk en uit te bou. Daarom pak ons projekte by skole aan, want ons bou nie net vir ’n volgende verkiesing nie, maar vir ’n volgende geslag,” sê Sampie Steinberg, hoof van Gemeenskapstrukture by AfriForum.

In Mookgophong (Naboomspruit) het die AfriForum-tak die veiligheid van motoriste en kinders hoog op die prys gestel deur vyf ton sand voor Hoërskool Hans Strijdom te verwyder. Ná swaar reën in die omgewing het sand regoor die pad gelê en die gemeenskap se veiligheid in gedrang gestel. Die tak het nie net die sand weggevee nie, maar ook weggery om te verhoed dat die sand nie oor ’n paar dae weer oor die pad lê nie. Ná die sand verwyder is, het die tak ook die strepe op die pad oorgeverf.

AfriForum se Uitenhage-tak het vanjaar al nege skole gehelp om veiligheidsoudits te voltooi. Hierdie skole is onder meer in Nxuba (Cradock), KuGompo Stad (Oos-Londen) en Despatch gesetel. AfriForum se veiligheidsoudits is daarop gemik om skole te help om potensiële risiko’s om skoolterreine te identifiseer en die nodige veranderings aan te bring om dit te bekamp.

Die AfriForum-tak in Viljoenskroon is nou betrokke by Hoërskool Salomon Senekal. Dié tak het 28 parkerings by die skool oorgeverf, ’n veiligheidsoudit voltooi, twee watertenks opgerig en die skool van twee radio’s voorsien wat gebruik kan word om die AfriForum-buurtwag te roep sou dit ooit nodig wees. “Die kinders se veiligheid is vir ons belangrik en dus het die tak ingespring om van hierdie projek ’n prioriteit te maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Mari-Louise Erasmus, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys in die noordstreek, lewer ’n teenboeliepraatjie by die Laerskool Verkenner.

AfriForum se skolespan het vanjaar al 13 skole in vier provinsies besoek om teenboeliepraatjies aan te bied. Bykans 8 000 leerders het die praatjies bygewoon waar hulle onder meer geleer het om boeliegedrag te identifiseer en hok te slaan.

“Boeliegedrag laat dikwels wonde wat nie met die oog sigbaar is nie. Dit breek selfvertroue af, neem kinders se gevoel van veiligheid weg en laat hulle twyfel aan hul eie waarde. Daarom moet skole, ouers en gemeenskappe saam werk om ’n kultuur te bou waar respek, empatie en moed harder praat as spot,” sê Mari-Louise Erasmus, AfriForum se projekkoördineerder vir Onderwys in die noordstreek.

AfriForum se Amanzimtoti-tak het twee hektaar gras rondom die Little Saint-kleuterskool in Illovo en die Kuswag Skool in Amanzimtoti gesny en in Kroonstad het die AfriForum-tak slaggate by die Trio Hoërskool, Trio Primêr en die Johan Slabbert Skool herstel. Meer as 11 ton teer is vir laasgenoemde projek gebruik.

“Dit is weereens net ’n bewys dat ons as gemeenskappe ’n groot verskil kan maak wanneer ons saamwerk,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland-streek.

AfriForum se tak in Kroonstad het meer as 11 ton gebruik om slaggate by drie skole te herstel.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Ons is Afrikaners