|

AfriForum maak geskiedenis met eerste buurtwag in Knysna

AfriForum se Knysna-tak het op 21 Junie geskiedenis gemaak deur die organisasie se eerste buurtwag op dié dorp te stig. Wat hierdie buurtwag nog meer merkwaardig maak, is dat dit uit 10 sektore bestaan vanweë Knysna se unieke geografiese ligging, en die gebied tussen Sedgefield en Plettenbergbaai sal dien.

Die bestuur van die nuwe buurtwag is Piet Barnard (leier), Nigel Dowsett (operasionele-spanleier), Mornay Bouwer en Louise Lombaard (twee inligtingspanleiers) en Piet Barnard (steunspanleier).  

Die 10 sektore van dié nuutgestigte AfriForum-buurtwag is  Smutsville, Karatara, Rheenendal, Buffelsbaai/Brentons en Belvidere, Knysna se sentrale sakekern, Knysna sektor 3, Knysna Ouplase en industriële gebied, Rexford/Hunters Home/Fisherhaven, Gouna en Plettenbergbaai. Twee van die sektore – Smutsville en Knysna sektor 3 – is in samewerking met Kaapse Forum op die been gebring.

“Dit is tyd dat ons veiligheid in ons eie hande neem. Veiligheid kan nie in isolasie bewerkstellig word nie – dit moet ’n gedeelde netwerk van gemeenskappe wees wat saamstaan. Wanneer een area onder misdaad gebuk gaan, spoel die gevolge oor na ander. Daarom moet gemeenskappe nou hande vat, hulpbronne deel en ’n verenigde front bou. Slegs dan kan ons werklik die vloei van misdaad stop en blywende verandering bewerkstellig,” sê Heindrich Wyngaard, voorsitter van Kaapse Forum.

Tydens die stigtingsvergadering het Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, en David Olivier, AfriForum se hoof van veiligheid in die suidstreek, verduidelik hoe AfriForum se buurtwagte binne die raamwerk van die Grondwet optree om hul gemeenskappe te beveilig.

Die volgende feite is tydens die voorlegging uitgelig:

  • AfriForum is ’n burgerregteorganisasie – nie ’n politieke party nie.
  • AfriForum beskerm alle landsburgers se grondwetlike regte.
  • Enige persoon wat AfriForum se doen en late ondersteun, kan by AfriForum aansluit.
  • AfriForum-buurtwaglede onderteken ’n gedragskode wat hulle verbind om te alle tye binne die raamwerk van die wet op te tree.
  • AfriForum se gespesialiseerde opleiding stel buurtwaglede in staat om die nodige ondersteuning aan statutêre rolspelers te verskaf – nie om hul werk oor te neem nie.
  • AfriForum is ’n organisasie met meer as 317 000 lede landswyd, wat aktief met alle moontlike rolspelers saamwerk om gemeenskappe vry, veilig en voorspoedig te maak. AfriForum het reeds samewerkingsooreenkomste met munisipaliteite, statutêre instansies en verskeie ander instansies en brei graag hierdie netwerk nog verder uit.

“Ná ’n twee jaar lange proses het AfriForum se Knysna-buurtwag uiteindelik die lig gesien. Ons is opgewonde om ’n positiewe bydrae tot gemeenskapsveiligheid in Knysna te maak. Ek bedank die lede van die Knysna-buurtwag vir hul bereidwilligheid om eienaarskap van hul veiligheid te neem en ’n beter toekoms vir hul kinders te skep,” sluit Erasmus af.

Sluit vandag nog aan by jou naaste buurtwag en help om jou kinders se toekoms te verseker. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel Erasmus by 081 216 9602.

Soortgelyke plasings