AfriForum maak beswaar teen regulasies wat groen lig vir hidrobreking wil gee
AfriForum hou vol dat die voorgestelde regulasies wat die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing voorhou as ’n waarborg om die omgewingsimpak van hidrobreking doeltreffend te reguleer, ’n illusie van omgewingsbewaring skep om kritici se monde te snoer. Dit terwyl die regering volhard in sy planne vir die ontwikkeling van hierdie hoogs omstrede industrie. Dít is sommige van die kommentare wat die burgerregteorganisasie vandag in sy formele beswaar op die konsepregulasies gemaak het.
Tans is die moratorium op hidrobreking wat in 2014 ingestel is steeds van krag. AfriForum waarsku dat indien die moratorium opgehef sou word deur die inwerkingstelling van die konsepregulasies, dit tot die onherroeplike vernietiging van beperkte waterbronne kan lei. Dit omdat die regering in die eerste plek nie die vermoë het om die regulasies af te dwing nie. Boonop is daar wesenlike gebreke in die regulasies, wat des te meer demonstreer dat die regering sy grondwetlike plig om skade aan die omgewing te voorkom moet nakom, eerder as om ’n riskante nuwe industrie te vestig.
’n Kernbeswaar is die impak van hidrobreking op watersekerheid. Hoewel die konsepregulasies beperkings op die gebruik van drinkbare waterbronne plaas, vereistes vir die ontwerp van boorgate voorskryf en vereistes vir die hantering van hidrobrekingvloeistowwe en afvalwater instel om die risiko vir besoedeling te beperk, berus die toepassing daarvan op die veronderstelling dat ’n verskeidenheid owerhede wat oor hierdie prosesse moet toesig hou, doeltreffend sal saamwerk en oor die vermoë beskik om die regulasies af te dwing. Indien hierdie vereistes nie streng toegepas word nie en besoedeling plaasvind, kan die gevolge daarvan moontlik onomkeerbaar wees en daarom is dit onaanvaarbaar om hierdie risiko in ’n waterskaars land te aanvaar.
“Suid-Afrika se rekord vir die afdwinging van omgewingswette in die mynbousektor boesem geensins vertroue in nie. Inteendeel, aansoeke vir omgewingsgoedkeurings word gekenmerk deur chroniese administratiewe vertragings, terwyl owerhede herhaaldelik versuim om op te tree teen besoedelaars en die nie-nakoming van lisensievoorwaardes ignoreer. Om teen hierdie agtergrond ’n uiters riskante aktiwiteit toe te laat, is roekeloos,” verduidelik Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.
AfriForum glo dat dit irrasioneel en ongrondwetlik sal wees om onder hierdie omstandighede die konsepregulasies in werking te stel en sal verdere regstappe oorweeg om te verhoed dat hidrobreking plaasvind.



