|

AfriForum lê klag teen Mangaung se munisipale bestuurder ná inploffing van metro

Klankgreep: Jaco Grobbelaar (Afrikaans)

AfriForum het ’n strafregtelike klagte teen die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se munisipale bestuurder, mnr. Sello More, ingedien oor sy volgehoue versuim om vullisbestuur in Bloemfontein doeltreffend toe te pas en vullisterreine aan die wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur te laat voldoen. Die burgerregteorganisasie het ook vandag vullis by die munisipale gebou in Bloemfontein opgetel én ’n speelgoedvullistrok aan More oorhandig, aangesien dié metro nie vertrou kan word om vullisverwydering op munisipale vlak te bestuur nie.

More se prestasiebeoordeling vir die 2024/2025-boekjaar voer aan dat hy al sy interne maatstawwe vir sukses (KPI’s) ten volle bereik het, tog is die Mangaung-metro feitlik bankrot. Dié metro is nie eens in staat om basiese dienste soos vullisverwydering te lewer nie.

“Die munisipale bestuurder is van mening dat hy al sy teikens bereik het om van die stad ’n sukses te maak, maar in werklikheid gaan die metro steeds gebuk onder ernstige diensleweringstekorte. Die metro se verwoestende inploffing onder More se bestuur dien as bewys waarom basiese dienslewering aan organisasies soos AfriForum oorhandig moet word, wat sal verseker dat dienste soos vullisverwydering volhoubaar gelewer word,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die Sentraalstreek.

Die klagte teen More is ingevolge die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur vir Vullis 59 van 2008 gelê nadat daar selfs in AfriForum se vullisterreinoudit uitgelig is dat nie een van Bloemfontein se vullisterreine aan die wetlike vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur voldoen nie.

AfriForum het reeds twee keer dit onder die munisipale bestuurder se aandag gebring dat Bloemfontein se vullisterreine dringend aan wetlike standaarde moet voldoen. Die kwessie is selfs na die provinsiale regering geëskaleer. Nie een van die partye het egter gereageer nie, wat AfriForum genoop het om op te tree.

Terwyl die ondersoek na More onderneem word het AfriForum ook ’n beroep op die metro gedoen om finansiële aanspreeklikheid te herstel en bevoegde diensverskaffers, soos AfriForum, in staat te stel om kritieke dienste soos vullisverwydering ten volle aan die gemeenskap te lewer. AfriForum het jare gelede begin om vullisverwyderingsdienste in sekere gebiede te lewer en het ook al inwoners se vullis verwyder wat deur die metro agtergelaat is.

“Die inwoners van Mangaung verdien meer as leë beloftes. Hulle verdien aanspreeklikheid, wetlike nakoming en betroubare dienslewering. AfriForum sal voortgaan om druk op die metro te plaas om sy grondwetlike verpligtinge teenoor inwoners na te kom en hom aanspreeklik te hou wanneer hy nie die paal haal nie,” sê Grobbelaar.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf