| |

AfriForum laat sy stem in Mpumalanga hoor oor Eskom se buitensporige kragtarief

AfriForum het oor die hele land heen deelgeneem aan die openbare raadplegingsproses oor Eskom se voorgestelde kragtariefverhoging van 36,15% en het op 27 November sy geskrewe kommentaar oor dié tariefverhoging tydens Mpumalanga se sessie ingedien. AfriForum het in sy formele kommentaar, wat in Mbombela (Nelspruit) voorgelê is, dié buitensporige tariefverhoging teengestaan.

Die burgerregteorganisasie het daarop gewys dat daar nie van kragverbruikers verwag kan word om pa te staan vir die jarelange wanbestuur van Eskom nie. Eskom het sy voorgestelde tariefverhoging vir die volgende drie jaar aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) voorgelê. Die publiek het tot vandag gehad om kommentaar daarop te lewer.

AfriForum se voorlegging het die ernstige ekonomiese en maatskaplike gevolge van Eskom se voorgestelde tariefverhoging onderstreep en beklemtoon hoe die beplande kostes kwesbare gemeenskappe, veral lae inkomste-huishoudings, wat reeds ’n groot deel van hul inkomste aan elektrisiteit bestee, buitensporig sal belas. Boonop is stygende elektrisiteitskoste die dryfveer van koste-inflasie, wat die prys van noodsaaklikhede verhoog en armoede en ongelykheid vererger.

“Die inwoners van Mpumalanga kan nie die verantwoordelikheid dra om die situasie by Eskom te probeer beredder ná die growwe wanbestuur by die kragvoorsiener oor die jare heen nie, daarom is AfriForum daartoe verbind om verbruikers se stemme te laat hoor oor die voorgestelde kragtariefverhoging,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mpumalanga Laeveld.

AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake, Morné Mostert, het ook tydens die openbare raadplegingsessie in Gauteng gister sy kommer uitgespreek oor Eskom se ondoeltreffendheid en ernstige bestuursmislukkings. “Nersa moenie net strenger nakoming van regulatoriese raamwerke afdwing nie, maar moet self ook omsigtigheidstoetse by Eskom doen, wat sal verseker dat wettige uitgawes slegs by die tariefberekeninge ingesluit word.”

AfriForum sal die uitkoms van die openbare raadplegingsproses noukeurig moniteer en optree indien daar onbillike gebruike en wanpraktyke opgemerk word.

Soortgelyke plasings