AfriForum laat Kempton Park se stem hoor oor irrasionele tarief vir gesteelde kragkabels
AfriForum het vandeesweek ’n platform oopgestel waar die inwoners van Kempton Park amptelik beswaar kan maak teen die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit se onregmatige en onregverdige heffing ten opsigte van gesteelde kragkabels. Dié metro vereis sedert 2023, toe ’n amptelike memorandum daaroor uitgereik is, dat inwoners tot bykans R2 000 moet opdok voordat munisipale kragverbindings in kabeldiefstalgevalle herstel word.
AfriForum het vroeër reeds ernstig beswaar gemaak teen hierdie irrasionele praktyk, maar sedert die afsending van die skrywe aan die munisipaliteit, is daar nog geen terugvoer oor die situasie ontvang nie.
Die inwoners van Kempton Park, veral in die Cresslawn-woonbuurt, is lank reeds slagoffers van kabeldiefstal en sit soms vir dae lank sonder elektrisiteit. Op die munisipaliteit se voortslepende aandrang dat inwoners vir die herstelwerk aan munisipale infrastruktuur moet betaal, trek dié inwoners veral swaar.
“Dit is onaanvaarbaar om te verwag dat die gemeenskap, wat reeds vir belasting opdok, die koste moet dek vir broodnodige herstelwerk aan munisipale kraginfrastruktuur. Die Ekurhuleni-metro het ’n grondwetlike plig om hierdie infrastruktuur in stand te hou, maar tans verontagsaam hy sy eie verordeninge deur hierdie tarief te hef,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.
Alhoewel die uitvoerende burgemeester in Maart vanjaar aangekondig het dat die heffing geskrap gaan word, duur die afdwinging daarvan steeds voort. Nog geen formele dokumente of riglyne is aan die publiek bekend gemaak om te bevestig dat dié tarief tot niet gemaak is nie.
AfriForum doen ’n beroep op al die inwoners van Kempton Park om AfriForum se petisie te onderteken sodat die metro die gemeenskap se stem sal hoor. AfriForum is daartoe verbind om die metro verantwoordbaar te hou en te verseker dat hy onderneem om voorts gesteelde kragkabels sonder addisionele fooie te herstel en ’n volhoubare aksieplan en rapporteringsproses saam te stel.