AfriForum kritiseer pogings om straatnaamsverandering in Upington deur te druk
Pogings om die naamsverandering van een van Upington se hoofstrate deur te druk, is volgens AfriForum onbillik aangesien die voorgenome verandering nie aan ’n behoorlike openbare deelnameproses onderwerp is nie. AfriForum eis dat die proses onmiddellik gestaak word en dat ’n inklusiewe openbare deelnameproses gevolg moet word. Die kritiek volg op die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit se planne om Schröderstraat na Q.A. Gubulastraat te hernoem. Q.A. (Alfred) Gubala was die leier van die United Democratic Front (UDF) in die Noord-Kaap en het gedurende die 1980’s opstande in Upington gelei.
Benewens die prosedurele probleme is dit ook, volgens die burgerregteorganisasie, ’n doelbewuste poging om die verandering van ’n naam wat groot historiese betekenis het, op ’n eksklusiewe en ondeursigtige wyse te dryf. AfriForum voer aan dat naamsverandering ’n duur proses is en dat name eerder in nuwe ontwikkelings ingestel kan word of dat naamsverandering toegepas kan word op bestaande straatname wat nie soveel historiese waarde vir die gemeenskap het nie.
“AfriForum is gekant teen eensydige en ondeurdagte naamsverandering,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap. “Schröderstraat is deel van die dorp se geskiedenis en talle inwoners voel baie sterk daaroor dat dié straatnaam nie sommer net verander moet word nie.”
Schröderstraat is na ds. Christiaan Schröder vernoem, ’n sendeling wat in 1875 ’n kerk en sendingstasie op die dorp, toe bekend as Olyfenhoudtsdrif, gebou het. Schröder is ’n sentrale figuur in die stigting van Upington en vandag huisves die destydse sendingstasie die Kalahari-Oranje-museum.
AfriForum win tans regsadvies in en oorweeg dit om verdere stappe te doen, sou hierdie naamsverandering onregmatig deurgevoer word.
“Die burgerregteorganisasie doen ’n beroep op die gemeenskap om hul stem te laat hoor en dié voorgestelde naamsverandering teen te staan. AfriForum sal nie toelaat dat politieke ideologieë op ’n gemeenskap afgedwing word sonder dat behoorlike samesprekings gehou word nie,” sê Strauss. Hy voeg by dat die bewaring van kultuur en geskiedenis ’n sleutelrol in onderlinge samehorigheid in die gemeenskap speel.