AfriForum keer vir eers Nersa en Eskom-skikking wat Suid-Afrikaners miljarde sou kos
Eskom en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se omstrede skikkingsooreenkoms – wat verbruikers oor ’n tydperk van drie jaar sowat R54 miljard uit die sak sou jaag – is vandag danksy AfriForum vir eers in die wiele gery. Eskom het weens druk van die burgerregteorganisasie ingestem dat die saak van die onbestrede na die bestrederol oorgeplaas word. Die ooreenkoms sou vandag met ’n hofbevel in die Pretoriase Hooggeregshof bekragtig word. Dié skuif skep egter nou vir AfriForum en ander belanghebbende partye die geleentheid om as party tot die saak toe te tree.
AfriForum meen dat die skikking tussen Eskom en Nersa as onregmatig en onredelik beskou kan word weens ’n gebrek aan deursigtigheid. Indien hierdie skikking sou voortgaan sou verbruikers tariefverhogings van byna 9% per jaar in die gesig staar.
AfriForum het reeds in September vanjaar ’n skrywe aan Eskom gerig om te versoek dat dié saak van die onbestrede rol verwyder word sodat die organisasie as party kan toetree tot die saak. Eskom het die versoek teengestaan en aangevoer dat AfriForum nie die reg het om in te meng nie en dat die publiek nie vetoreg het nie. Volgens Eskom het dié skikking nie openbare deelname vereis nie.
Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake, meen dat die kragreus se antwoord kortsigtig is aangesien die publiek direk geraak gaan word deur hierdie besluit. “Om te sê dat die publiek, wat die besluit moet befonds, nie ’n belang in die saak het nie wys Eskom se blatante arrogansie en dit kan nie langer net geduld en blindelings befonds word nie.”
Eskom en Nersa moet deursigtig en verantwoordbaar optree, veral ná Nersa verskeie bloutjies geloop het met tariefberekeninge en Eskom se onsekere finansiële bestuur. Volgens AfriForum ondermyn Nersa die vertroue van die publiek deur te poog om hierdie skikking sonder openbare deelname te sluit.
“Hierdie ontwikkeling is ’n oorwinning vir deursigtigheid en verbruikersregte. AfriForum sal toesien dat die publiek se stem gehoor word en dat Nersa en Eskom aanspreeklik gehou word vir hul besluite,” sluit Steffens af.