|

AfriForum kap Eskom met prokureursbrief ná stilswye oor registrasie van sonkrag-installasies

Klankgreep: Deidré Steffens (Afrikaans)

Klankgreep: Deidré Steffens (Engels)

Eskom se stilswye oor die wetlike en regulatoriese raamwerk wat die verpligte registrasie van kleinskaalse ingeboude kragopwekking (SSEG) ondersteun, het AfriForum genoop om ’n prokureursbrief aan die kragvoorsiener te stuur. Hierin eis die burgerregteorganisasie dringend duidelikheid oor die regulasies wat Eskom magtig om hierdie registrasie op burgers, wie se stelsels minder as 100kW opwek, af te dwing.

AfriForum het vroeër vanjaar ’n skrywe aan Eskom gerig oor dié aangeleentheid, maar die kragvoorsiener het tot op hede nog geen duidelikheid aan AfriForum of die publiek verskaf nie. AfriForum voer aan dat indien daar geen wetgewing, regulasies of riglyne is, wat Eskom spesifiek magtig om die registrasie van SSEG-stelsels af te dwing nie, Eskom se voornemens om met die proses voort te gaan, onregmatig sal wees. Die wetgewing wat die registrasie van SSEG-stelsels vereis het volgens AfriForum slegs betrekking op verbruikers wat meer as 100kW opwek.

“In Eskom se beskikbare kommunikasie aan die publiek is dit baie duidelik dat gebruikers met sonkrag-installasies, wat van Eskom krag ontvang, voor Maart 2026 moet registreer. Daar word egter geen verwysing gemaak na die regulasies wat hierdie Eskom-registrasie verpligtend en afdwingbaar maak nie,” sê Morné Mostert, bestuurder van Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Een van die bepalings wat Eskom vir die registrasie het, is dat ’n ingenieur die installasies as veilig en voldoende moet onderteken, wat verbruikers nog tienduisende rande uit die sak kan jaag. “Weereens verwys Eskom na regulasies wat deur die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) voorgeskryf word, maar spesifiseer nie die regulasies wat die kragvoorsiener se versoeke ondersteun nie,” voeg Mostert by.

“Eskom se stilswye oor AfriForum se versoek om duidelikheid, laat ’n mens wonder of die kragvoorsiener probeer verbloem dat daar geen afdwingbare regulasies soos hierdie bestaan nie,” sê Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake. “AfriForum se regspan het daarom Eskom opnuut versoek om so gou moontlik duidelikheid te gee aan die publiek oor die regulasies wat hom magtig om registrasie te verplig.”

AfriForum vra onder meer vir Eskom om spesifieke verwysings oor die bepalings, beleide of regulasies wat Eskom gebruik om die verpligte registrasie van SSEG-stelsels af te dwing, aan die burgerregteorganisasie te verskaf. Daarbenewens soek AfriForum duidelikheid oor die regsgrondslag vir die oplegging van boetes of strawwe aan gebruikers wat nie aan hierdie registrasievereistes voldoen nie.

Sou die kragvoorsiener versuim om dié inligting voor 18 April te verskaf, behou AfriForum die reg om die nodige regstappe te doen om duidelikheid te bekom.

Soortgelyke plasings