|

AfriForum kap Ekurhuleni oor dreigemente om inwoners se kringtelevisie te verwyder

Yvonne Gerber (Afrikaans)

AfriForum het sy regspan opdrag gegee om verdere stappe teen die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit te doen indien die metro nie dadelik sy dreigemente staak om kringtelevisie wat in privaat besit is te laat verwyder nie. Die metro het onlangs inwoners met die onregmatige verwydering van hul kringtelevisiestelsels gedreig indien hulle nie persoonlike besonderhede oor die stelsels, soos die ligging en doel daarvan, teen 27 November indien nie.

AfriForum meen dat die metro nie inwoners met die moontlike verwydering van hul privaat eiendom kan dreig sonder om eers die regsgrondslag daarvoor duidelik uiteen te sit nie. “Dit is onaanvaarbaar dat inwoners wat verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid neem onsekerheid moet ervaar oor die voortbestaan van hul eie veiligheidsinfrastruktuur,” sê Yvonne Gerber, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand.

Die metro het verlede week inwoners, ondernemings en gemeenskapsorganisasies versoek om inligting oor hul kringtelevisie aan die stad te verskaf as deel van ’n sogenaamde assesserings- en verifikasieproses. Die metro waarsku egter dat kameras waarvan eienaarskap nie teen die sperdatum vasgestel of geverifieer kan word nie, verwyder kan word.

“Wanneer dit by veiligheid kom, kan gemeenskappe nie uitsluitlik op die munisipaliteit staatmaak nie. Inwoners en ondernemings het oor die jare heen baie tyd en geld belê om hul huise, ondernemings en woonbuurte veiliger te maak. Kringtelevisie is ’n belangrike hulpmiddel om misdaad te voorkom, verdagte aktiwiteite te monitor en die polisie met misdaadondersoeke by te staan. Hierdie gemeenskapsinisiatiewe behoort ondersteun en aangemoedig te word, nie deur dreigemente ondermyn te word nie,” voeg Gerber by.

AfriForum bevraagteken die regsgrondslag waarop die metro sy aanspraak op verpligte registrasie en moontlike verwydering van privaat kameras baseer. Die metro se eie kringtelevisebeleid verwys hoofsaaklik na die ontwikkeling van kringtelevisiestelsels in openbare ruimtes. Dit is daarom nie duidelik hoe die bepalings gebruik kan word om die verpligte registrasie en verwydering van privaat kameras te regverdig nie.

Die regspan het in ’n skrywe aan die metro ook dokumentasie oor die goedkeuringsproses van die beleid aangevra, insluitend die toepaslike openbare deelnameproses, kennisgewings wat vir openbare kommentaar uitgereik is, die notule van die raadsvergadering van 29 Mei en die volledige raadsbesluit waardeur die beleid goedgekeur is. AfriForum wil ook bevestiging hê of die beleidsweergawe waaroor hy beskik, wat na 2002 verwys, steeds van krag is.

AfriForum se regspan versoek verder dat die metro onder meer sy kommunikasie oor die aangeleentheid onmiddellik terugtrek en skriftelik onderneem dat geen kamera bloot weens die versuim om die gevraagde inligting in te dien, verwyder sal word nie.

“AfriForum sal nie toelaat dat inwoners se reg om hulself en hul eiendom te beveilig, sonder behoorlike regsgrondslag en duidelike prosedures bedreig word nie. Indien die metro nie die nodige onderneming verskaf nie of met die dreigemente voortgaan sonder om ’n wettige grondslag daarvoor te wys, behou AfriForum die reg voor om verdere regstappe te doen,” sê Gerber.

AfriForum doen ’n beroep op die inwoners van die Ekurhuleni-metro om hul stem te laat hoor deur AfriForum se petisie teen die metro se optrede te onderteken.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf