AfriForum het begrip vir nuwe Amerikaanse wetsontwerp wat ANC-leiers moet teiken, verwelkom ambassade se verwerping van ‘Kill the Boer’
Video: Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum
Die burgerregteorganisasie AfriForum het begrip vir die wetsontwerp wat gister in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers ter tafel gelê is, wat vra vir geteikende en persoonlike sanksies teen ANC-leiers wat hulle aan korrupsie en die skending van menseregte skuldig maak. Die organisasie is egter ook bekommerd oor die moontlike implikasies van die wetsontwerp se oogmerk om ’n hersiening van die VSA se bilaterale verhoudinge met Suid-Afrika te bewerkstellig.
Die Hersieningswet op Bilaterale Betrekkinge tussen die VSA en Suid-Afrika is deur Ronny Jackson, lid van die Amerikaanse kongres ingedien, wat onder meer aangevoer het dat Suid-Afrika se bondgenootskap met China, Rusland, Iran en terroristeorganisasies “verraad is wat ernstige gevolge vereis”.
“Die stilswyende goedkeuring van slagspreuke soos ‘Kill the Boer’ en die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (die Bela-wet) se teiken van Afrikaanse skole en die bedreiging van Afrikaanse kultuurgemeenskappe se voortbestaan, is ernstige menseregteskendings. Daarbenewens het die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping se verslag ook wydverspreide korrupsie deur ANC-leiers blootgelê,” verduidelik Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.
Kriel benadruk egter dat dit AfriForum diep bekommer dat die ANC-leiers se roekelose optrede en beleidsrigtings – soos hul bande met Hamas en Iran – nou Suid-Afrika en al sy burgers in die spervuur geplaas het deurdat die wetsontwerp ook vra vir ’n hersiening van die VSA se bilaterale verhoudinge met Suid-Afrika.
“Die ANC-leiers het hierdie krisis veroorsaak. Hulle het nou ’n verantwoordelikheid om Suid-Afrika en sy mense uit die spervuur te neem deur middel van ’n duidelike rigtingverandering in die land se beleid en optrede. Hierdie verandering moet ’n omvattende hersiening van Suid-Afrika se buitelandse beleid sowel as ’n nuwe verbintenis tot die beskerming van eiendomsreg en menseregte – ook dié van minderheidsgemeenskappe – insluit,” sluit Kriel af.
AfriForum verwelkom intussen ook die Amerikaanse ambassade in Suid-Afrika se veroordeling van die “Kill the Boer”-dreunsang vandeesweek. Dié veroordeling kom ten spyte van die Konstitusionele Hof se wettiging van die dreunsang verlede week. AfriForum is dit eens met die Amerikaanse ambassade dat die dreunsang geweld teen minderhede aanhits en dat die EFF daarmee rassehaat bevorder.
- Lees die nuwe wetsontwerp hier.