AfriForum herstel onbegaanbare grondpad buite Kariega sommer tjoef-tjaf
Lede van AfriForum se Winterberg-plaaswag het nie gehuiwer om op 12 April met die herstel van die gevaarlike Amanzi-grondpad buite Kariega te help nie. Hoër as verwagte reënval die afgelope tyd in die Oos-Kaap het daartoe gelei dat menigte paaie, veral grondpaaie, in ’n baie swak toestand is en op sekere plekke selfs heeltemal onbegaanbaar is. ’n Motorongeluk op die Amanzi-grondpad het Darius Stumpke, voorsitter van AfriForum se Winterberg-plaaswag, genoop om die grondpad op eie onkoste te herstel.
’n Vragmotor het onlangs op die Amanzi-grondpad gegly en in ’n gat langs die pad geval. Nadat die vragmotor bevry is, het dit ’n groot diep sloot aan die kant van die pad gelaat. Die sloot het ’n gevaar vir ander padgebruikers ingehou en was saans heeltemal onsigbaar. Dit sou gevaarlik wees om die pad net so te los, daarom het Stumpke ingegryp.
Lede van AfriForum se Winterberg-plaaswag se hulp is ontbied waarna ’n laaigraaf ingebring is om eers die sloot met grond te vul en later te kompakteer. Binne ’n japtrap was die pad weer rybaar en veilig vir padgebruikers.
“Ons kon wag vir die regering om die pad te herstel óf ons kon dit self doen. By AfriForum sê ons – ons sal self,” sê Stumpke.
Volgens Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap, is hierdie aksie net nog ’n voorbeeld van AfriForum se onbaatsugtige diens oor die hele land heen.
AfriForum moedig die publiek aan om by hul naaste AfriForum-veiligheidstruktuur aan te sluit. Besoek www.afriforumbuurtwag.co.za vir meer inligting of om betrokke te raak.

