AfriForum help Gordonsbaai-polisie om stasie met trots te onderhou
AfriForum se Helderbergkom-tak het verlede week ’n hernieude gevoel van trots op die voorkoms van die Gordonsbaai-polisiestasie by dié beamptes ingeboesem.
Die AfriForum-tak het op sy eie onkoste tuindienste gekry om die grasperk by die polisiestasie te sny. Die tak het selfs skoonmaakmiddels oorhandig sodat die stasie skoon en netjies vir die gemeenskap gehou kan word. Die beamptes het onderneem om met dié middels hul meubels en kantore in stand te hou.
“Die publiek se vertroue in wetstoepassers se vermoëns begin dikwels by die sigbare toestand van die polisiestasie. ’n Netjiese, goedversorgde omgewing is daarom een van die maniere om hierdie vertroue in te boesem,” sê Marique van Dalen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.
AfriForum doen ’n beroep op inwoners om by die burgerregteorganisasie betrokke te raak en saam ’n verskil te maak in die gebiede waar dit die meeste saak maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.