|

AfriForum gryp in ná Sedgefield-kruising onvoltooid bly

AfriForum se Knysna-tak het Saterdag die padoppervlak van ’n kruising in Sedgefield begin herstel. Dit volg nadat die Knysna Plaaslike Munisipaliteit nie die kontrak hernu het wat sou verseker het dat die herstelwerk afgehandel word nie. Gevolglik is ’n gedeelte van die kruising onvoltooid gelaat. Die betrokke kontrakteur het ’n area van ongeveer 110 m²  opgekap, waarna munisipale werkers los gruis in die gate gegooi het. Die los gruis hou ’n groot gevaar vir motoriste in en vererger die toestand van die pad.

Ten spyte van verskeie vergaderings met die munisipaliteit, waar AfriForum hierdie kwessie herhaaldelik geopper het, is niks aan die situasie gedoen nie. Die plaaslike AfriForum-tak het daarom besluit om self in te spring en dié bedrywige pad weer rybaar te maak.

Die eerste fase van die herstelwerk het die afgelope naweek afgeskop, waartydens die tak
sowat 1,4 ton teer gebruik het om net meer as 10 m² se padoppervlak aan die hoek van Volstruisweg en Quailstraat op te vul. Die volgende fase sal na verwagting eersdaags onderneem word. Die projek is gefinansier deur die tak en vrywilligers vanuit die gemeenskap.

Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, sê dienslewering in Knysna is besig om ’n algehele laagtepunt te bereik. “AfriForum is werklik bekommerd oor die gebrekkige dienslewering in die groter Knysna-omgewing. Dit is duidelik dat daar ’n gebrek aan bereidwilligheid is om dienste te lewer en dat gemeenskappe nie verder op die munisipaliteit kan staatmaak hiervoor nie. Hierdie jongste projek is deel van AfriForum se strategie om teen staatsverval te veg en saam met gemeenskappe aan praktiese oplossings te werk as die regering hul faal.”

Erasmus beklemtoon dat selfdoenaksies nie die munisipaliteit sy verantwoordelikheid laat vryspring nie, maar dat dit eerder aandag vestig op die plaaslike regering se versuim om sy grondwetlike verpligtinge teenoor die gemeenskap na te kom. “Die herstel van infrastruktuur, die opruim van stortingsterreine en die herstel van basiese dienslewering is alles deel van AfriForum se mandaat om gemeenskappe te beskerm – en ’n duidelike boodskap te stuur dat inwoners nie dié vlak van nalatigheid sal duld nie.”

AfriForum se Knysna-tak het reeds verskeie suksesvolle gemeenskapsprojekte bedryf en sal voortgaan om te veg vir die voortbestaan van dié kusdorp. Kontak gerus vir Rethea Lombaard by 071 672 8806 om by die tak betrokke te raak of sluit vandag nog by die Knysna-tak aan. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel vir Erasmus by 081 216 9602 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings