AfriForum-gids: Takel die reënseisoen só as vloede dreig
Die nasionale ramptoestand wat onlangs afgekondig is na aanleiding van die gure weerstoestande, wat reën, vloede, sterk wind en hael in Oktober tot gevolg gehad het, het dit duidelik gemaak dat die meeste munisipaliteite in die geaffekteerde gebiede nie gebeurlikheidsplanne in plek gehad het om die rampe na behore te bestuur nie. Dit het duisende gemeenskappe weerloos teen die elemente gelaat – iets wat AfriForum nie gaan toelaat om weer te laat gebeur nie.
Met die toename in uiterste weerstoestande het AfriForum ’n gratis gids beskikbaar gestel om gemeenskappe se gereedheid vir die impak van die reënseisoen op te skerp. Daarin word dit duidelik uiteengesit wat gemeenskappe moet doen om veilig te bly tydens ’n vloed, watse oorlewingstappe gevolg moet word en wat belangrik is om te onthou ná afloop van ’n vloed.
“Dis belangrik dat gemeenskappe en huisgesinne weet wat om voor, tydens en ná ’n vloed te doen en hierdie gids bevat al die elemente om te verseker dat hulle en hul geliefdes veilig van ’n natuurramp afkom,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis vir AfriForum.
Die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Vrystaat, Limpopo, Noordwes, Gauteng en Mpumalanga het onlangs onder gure weerstoestande deurgeloop wat erge skade aan infrastruktuur, eiendomme en die omgewing aangerig het. Die aankondiging van die nasionale ramptoestand stel die regering in staat om fondse beskikbaar te stel vir humanitêre verligting en herstelwerk.
Cooks wys daarop dat klimaatverandering’n merkbare impak op Suid-Afrika se weerpatrone het, wat die risiko van intense reën en vloede verhoog. In die afgelope paar jaar word die gevolge van klimaatsverandering al hoe meer gevoel, met abnormale reënval en uiterse warm toestande in plekke.
“Hierdie veranderinge dra by tot die intensiteit en frekwensie van moontlike vloede, wat ’n verwoestende impak op gemeenskappe en hul infrastruktuur kan hê. Daar moet dus baie meer opleiding gedoen en bewustheid geskep word in gemeenskappe om gebeurlikheidsplanne op te stel om sodoende die impak van ’n ramp te versag,” voeg sy by.
Besoek afriforum.co.za/rampbestuur/vloede/ om gratis die gids af te laai.