|

AfriForum gebruik bykans 140 liter verf om Middelburg, Emalahleni te beveilig

AfriForum se buurtspan van die Middelburg- en Witbank-takke het onlangs bykans 140 liter verf gebruik om spoedhobbels in Middelburg en Emalahleni (Witbank) oor te verf. Altesaam 25 spoedhobbels is in dié gebiede geïdentifiseer as gevaarlik, aangesien dit deur die padoppervlak en skaduwees vermom word.

Die span het in Middelburg verskeie strate geïdentifiseer om spoedhobbels oor te verf, naamlik Marico-, Hoog-, Vos-, Meyer-, Hexrivier-, Hospitaal- en McDonaldstraat, asook Pongola-rylaan. Dit volg nadat AfriForum op verskeie geleenthede klagtes oor die toestand van dié spoedhobbels ontvang het. In ’n poging om padveiligheid in Middelburg op te skerp, het die tak altesaam 11 spoedhobbels met meer as 60 liter verf oorgeverf.

“Die spoedhobbels is veronderstel om strate veiliger te maak, maar weens die feit dat dit nie duidelik gemerk is nie, raak dit toenemend ’n gevaar vir motoriste en voetgangers,” sê Mark Salzwedel, voorsitter van AfriForum se Middelburg-tak.

In Emalahleni het die span hul aandag op 14 spoedhobbels in verskillende gebiede gevestig. Spoedhobbels is in Gordonweg, asook Duiker- en Steenkampstraat geverf. Die spoedhobbels wat om Hoërskool Patriot geleë is, is ook geverf. Altesaam 78 liter is hiervoor aangewend.

“AfriForum het spesifiek gefokus op state wat baie verkeer dra as gevolg van naburige skole. Die doel is uiteraard om padveiligheid te bevorder, daarom is die omgewings waarin die skoliere van Middelburg en Emalahleni daagliks hulself bevind, veiliger gemaak,” sê Sarel van Heerden, voorsitter van AfriForum se Witbank-tak.

Behalwe vir die verf van spoedhobbels, het die MidWit-buurtspan ook die sypaadjies by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) Vergeet-My-Nie behuising en aftreeoord in Middelburg gesny. Die gras in Oranjestraat, langs dié aftreeoord, is skoongesny, terwyl die gras by die verlate erf aan die hoek van Umlaas- en Keiskammastraat ook gesny is. Ongeveer 4  000 m² se gras is op die ou end in hierdie gebied gesny.

Ondersteun AfriForum se MidWit-buurtspan deur aktief by die burgerregteorganisasie betrokke te raak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings