AfriForum en inwoners takel Blesbokstraat se slaggate
Die gemeenskap van Bethlehem het skouer aan die wiel gesit om die swak toestand van plaaslike paaie in samewerking met AfriForum aan te pak. In ’n proaktiewe stap het die inwoners van Blesbokstraat die afgelope week self die straat voor hul eiendomme herstel.
AfriForum het die teer, wat die Blesbokstraat-inwoners geskenk het, gebruik om talle slaggate te herstel. Die AfriForum-buurtspan het 1 000 vierkante meter se slaggate herstel, wat die pad aansienlik verbeter het. Met die nodige kennis en toerusting het die buurtspan nie net slaggate herstel nie, maar ook die padoppervlak verseël om verdere skade te voorkom.
Francois Meyer, ’n inwoner van Blesbokstraat, het sy verligting uitgespreek: “Dit stel mens sommer gerus om te weet dat ek nie hoef te koes vir ’n slaggat wanneer ek by my oprit uitry nie.”
AfriForum se buurtspan het beklemtoon dat hul diens verder strek as net die herstel van slaggate. “Ons buurtspan is daar vir die gemeenskap van Bethlehem. Ons kan die gemeenskap behulpsaam wees met allerlei dienste waar die munisipaliteit faal in hul verantwoordelikhede. Die buurtspan is nie net toegerus om slaggate te herstel nie, maar doen ook voorbrande, ontblok stormwaterdreine, herstel klein rioollekkasies, doen vullisverwydering en verf padtekens op straatoppervlakke,” se Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.
Hierdie samewerking tussen die Bethlehem-gemeenskap en AfriForum is ’n uitstekende voorbeeld van gemeenskapsinisiatiewe wat werklike verandering bring. Die gemeenskap moedig ander aan om soortgelyke projekte te ondersteun om Bethlehem se infrastruktuur te verbeter.
Skakel Ikking by 066 486 7612 vir inligting oor hoe jy AfriForum kan help.
