AfriForum eis oplossings vir gereelde water- en kragonderbrekings in Bloemfontein
AfriForum eis ’n gedetailleerde aksieplan van die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit wat uiteensit hoe die voortdurende kragonderbreking in Bloemfontein en omliggende gebiede voortaan hanteer sal word, insluitend duidelike tydlyne en maatreëls om verdere ontwrigtings te verminder. Die huidige onderbrekings spruit onder meer uit ’n beplande kragonderbreking by die Bayswater DC-substasie, wat die elektrisiteitstoevoer na die Maselspoort-watersuiweringsaanleg beïnvloed en gevolglik waterproduksie ontwrig. Dit is egter veral kommerwekkend dat soortgelyke onderbrekings reeds sedert Februarie voorkom, wat dui op ’n sistemiese en onopgeloste probleem.
Luidens ’n brief wat AfriForum gister aan die metro gestuur het, veroorsaak die onbetroubare water- en kragtoevoer toenemende frustrasie, onsekerheid en selfs paniek onder inwoners. Hierdie situasie ondermyn ook die publiek se vertroue in die munisipaliteit se vermoë om basiese dienste te lewer, ten spyte daarvan dat inwoners hul belasting- en diensverpligtinge nakom.
Benewens die waterkrisis hou die kragonderbrekings ook ernstige veiligheidsrisiko’s vir inwoners in. Kritieke infrastruktuur wat afhanklik is van elektrisiteit, soos verkeersligte by padkruisings en selfoontorings, word direk geraak. Wanneer hierdie stelsels nie funksioneer nie, neem die risiko van padongelukke en kommunikasie-onderbrekings aansienlik toe. In noodgevalle kan die onvermoë om nooddienste of die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) te kontak omdat selfoontorings nie krag het nie, ernstige en selfs lewensgevaarlike gevolge hê.
Die situasie is onhoudbaar en vereis onmiddellike ingryping.
“Die volgehoue onderbrekings in beide water- en kragvoorsiening plaas gemeenskappe onder onnodige druk en stel inwoners se veiligheid in gedrang. Dit is onaanvaarbaar dat belastingbetalers vir maande reeds sonder betroubare basiese dienste moet klaarkom sonder duidelike oplossings of kommunikasie van die munisipaliteit,” sê Christo Groenewald, distrikskoördineerder vir AfriForum in Bloemfontein.
In sy brief, doen AfriForum verder ’n dringende beroep op Sello More, die munisipale bestuurder, om duidelikheid oor die volgende te verskaf:
- Maatreëls wat ingestel word om die risiko van verdere ontwrigtings te beperk.
- Die noodplan wat tans ingestel is om gemeenskappe van water te voorsien, insluitend die beskikbaarheid van watertenkwaens en tydelike waterpunte.
- Stappe om te verseker dat kritieke infrastruktuur, soos verkeersligte en kommunikasienetwerke, funksioneel bly tydens kragonderbrekings.
- Doeltreffende kommunikasiestrategieë om inwoners betyds en deursigtig in te lig oor onderbrekings en alternatiewe reëlings.
AfriForum beklemtoon dat toegang tot water en basiese dienste ’n grondwetlike reg is en dat die voortgesette versuim om ’n stabiele dienslewering te verseker, onaanvaarbaar is.
AfriForum bly bereid om konstruktief saam met die munisipaliteit te werk om volhoubare oplossings te vind, maar dring daarop aan dat daar met die nodige erns en dringendheid opgetree word.



