|

AfriForum eis ondersoek na SANParke te midde van R1 miljard-tenderskandaal

Klankgreep: Marais de Vaal (Afrikaans)

Soundbite: Marais de Vaal (English)

AfriForum het ’n beroep op die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DFFE) gedoen om ’n uitgebreide ondersoek na Suid-Afrikaanse Nasionale Parke, beter bekend as SANParke, se verkrygingsprosesse van stapel te stuur nadat onreëlmatighede met die toekenning van tenders onlangs aan die lig gekom het. Die burgerregteorganisasie het versoek dat diegene wat verantwoordelik is vir die agteruitgang van en korrupsie by SANParke aan die pen moet ry sodat die bewaringsowerheid opnuut sy fokus op die behoud van biodiversiteit en kulturele erfenis kan vestig.

Die Hooggeregshof in Pretoria het onlangs ’n IT-kontrak van R1 miljard, wat deur SANParke toegeken is, geskrap en dit as onregmatig bestempel wat met onreëlmatighede deurtrek is. Die saak (041563/2024) het aan die lig gebring dat SANParke dié enorme kontrak aan ’n sekere onderneming – onder leiding van ’n sakeman, wat skynbaar polities goed verbind is en in die verlede vir beweerde bedrieglike aktiwiteite ondersoek is – toegeken het ten spyte daarvan dat die onderneming nie aan die verpligte tendervereistes voldoen het nie. Vier ander bieërs is vir dieselfde tekortkominge gediskwalifiseer.

“Dít is nie ’n tegniese fout nie – dit is ’n blatante skending van openbare vertroue,” sê Marais de Vaal, raadgewer op Omgewingsake by AfriForum. “Terwyl die paaie in parke agteruitgaan, stropers bedreigde spesies jag en fasiliteite substandaard is, het SANParke en ander amptenare op ’n transaksie van miljarde rande afgeteken sonder inagneming van die toepaslike wetgewing. Daardie geld kon vir veldwagters, bewaring of infrastruktuur gebruik word, nie vermors word op ’n wetlik onverdedigbare kontrak nie.”

De Vaal sê hierdie onlangse tenderskandaal laat die vraag ontstaan ​​of daar nog twyfelagtige en onwettige transaksies is waarby SANParke en ander amptenare betrokke is. AfriForum het dus formele briewe aan SANParke en die DFFE gestuur waarin aanspreeklikheid geëis word en beide die bewaringsowerheid en die departement versoek is om aan die parlement verslag te doen oor die aangeleentheid. Die burgerregteorganisasie versoek dat die betrokke amptenare ook geskors of sanksies teen hul ingestel word.

“Ons sal nie toekyk terwyl ons natuurlike erfenis verbrokkel weens wanbestuur en korrupsie nie,” sê De Vaal. “Suid-Afrikaners verdien beter rentmeesters van ons nasionale parke en dit begin deur stappe te doen teen diegene wat poog om voordeel te trek uit onwettige transaksies. Een vrot appel steek al die ander aan.”

AfriForum doen ’n beroep op die publiek om sy veldtog #ParksNotProfits te ondersteun en beter bestuur en daadwerklike optrede te eis van diegene wat met die beskerming van ons parke toevertrou is.

Soortgelyke plasings