AfriForum eis ingryping ná waterrade wys op ineenstorting wat watertariewe sal verhoog
Die reeks kommerwekkende korporatiewe plan-aanbiedings wat verlede week deur Overberg Water, Magalies Water en uMngeni-uThukela Water (UUW) in die parlement ter tafel gelê is, het AfriForum genoop om dringende ingryping te eis by munisipaliteite wat nie daarin slaag om waterverliese te verminder en infrastruktuur te onderhou nie. Die jongste aanbieding bevestig dat Suid-Afrika se waterstelsel negatief beïnvloed word deur munisipale ineenstorting, voortslepende verwaarlosing van infrastruktuur en ongekende finansiële wanbestuur, wat gemeenskappe gevolglik dwing om die koste te dra deur vir hoë watertariewe op te dok.
In elk van die voorleggings is dit duidelik dat munisipaliteite enorme hoeveelhede water verloor deur lekkasies, versuim om infrastruktuur te onderhou en wanbetaling van hul waterrekeninge. Al die waterrade het ook uitgelig dat daar ernstige agterstande is in die vervanging van pypleidings, opknapping van pompstasies en rehabilitasie van watersuiweringsaanlegte.
UUW wys daarop dat KwaZulu-Natal se munisipaliteite meer as 1 miljard liter water per dag verloor (ter waarde van R6,2 miljard jaarliks) as gevolg van lekkasies en ander soort waterverliese. Altesaam R3,9 miljard is ook aan UUW verskuldig, aangesien munisipaliteite gereeld nie hul rekeninge vereffen nie. R2,7 miljard hiervan is egter reeds as verliese afgeskryf. Hierdie plaas groot druk op UUW se balansstaat en toekomstige tariewe.
“Munisipaliteite rig ernstige skade aan die waterstelsel, terwyl waterrade gedwing word om permanent krisisbestuur toe te pas,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum. “Die rade sê in wese vir die parlement dat hulle water aan lekkende, ineenstortende en wanbetalende munisipale stelsels voorsien, wat daartoe lei dat gemeenskappe met hoër tariewe gestraf word.”
Tariewe sal aanhou styg omdat munisipaliteite weier om lekkasies reg te maak. Om tred te hou met verouderde infrastruktuur en stygende bedryfskostes, voorsien UUW tariefverhogings van ongeveer 12% jaar-tot-jaar oor die mediumtermyn. Ander rade dui op soortgelyke opwaartse druk, hoofsaaklik omdat daar van hulle verwag word om die aanbod te verhoog eerder as dat munisipaliteite hul eie lekkasies regmaak.
“Die bose kringloop sal voortduur met munisipaliteite wat die helfte van hul watervoorraad verloor, versuim om infrastruktuur te onderhou en rekeninge te betaal, wat daartoe lei dat inwoners wat eintlik vir water betaal, gedwing word om die tekort verder te finansier,” sê De Klerk.
Selfs waar waterrade sterk tegniese prestasie het – byvoorbeeld UUW wat 97,6% -voldoening aan gehalte drinkwater behaal het – ondermyn die finansiële stres wat deur munisipale verval veroorsaak word, hul vermoë om in toekomstige grootmaatvoorsiening te belê.
“Dit is nie geïsoleerde gevalle nie. Dit is ’n sistemiese ineenstorting wat gedryf word deur politieke inmenging, geen onderhoud en geen verantwoordbaarheid op munisipale vlak nie. Terwyl waterrade miljarde in infrastruktuurbeleggings beplan, saboteer munisipaliteite daardie pogings deur nie lekkasies te herstel nie, skuld te laat ophoop en nie behoorlik te faktureer nie,” voeg de Klerk by.
AfriForum doen dus ’n beroep op die Nasionale Tesourie en die departement van Water en Sanitasie (DWS) om dadelik in te gryp deur onder meer openbare verantwoordbaarheidsmaatreëls te implementeer vir munisipale amptenare wat versuim om waterinfrastruktuur te onderhou; deursigtigheid oor waterverliese vir elke munisipaliteit te bied; en ’n nasionale omkeerplan vir munisipale waterverliese saam te stel en te implementeer, met spesiale fokus daarop om lekkasies te herstel.
Die burgerregteorganisasie het ook gevra vir goedkeuring om gemeenskapsgebaseerde herstelwerk te doen, sodat geakkrediteerde privaat loodgieters en AfriForum-takke gemagtig word om lekkasies en rioolprobleme te herstel wat munisipaliteite ignoreer.
“Hierdie korporatiewe planne is nie waarskuwings vir die toekoms nie, dit is bevestiging van ’n krisis wat reeds hier is. Suid-Afrika sal nie watersekerheid bereik tensy munisipale ineenstorting direk gepak word nie. Daarom moet gemeenskappe en die privaatsektor toegelaat word om in te gryp waar die staat nie kan of wil nie,” sluit De Klerk af.
AfriForum sal voortgaan om waterrade se prestasieplanne te monitor en druk op nasionale en plaaslike regerings te verskerp om die land se watersekerheid te verseker.



